Update
STILBAAI NUUS - Joy Mostert van Stilbaai is Dinsdag 6 September in Huis Stilbaai se siekeboeg oorlede. Sy was 90 jaar oud.
Haar dood was presies 'n maand voor haar en haar man, Mossie, se 70ste huweliksherdenking. Hulle het hul 31 jaar gelede in Keurboomlaan gevestig en Suid-Afrika, en van die buurlande, met hul geliefde ou karavaan deurkruis.
Joy was vanaf Maart in Huis Lekkerbly, maar met die nuus dat hulle einde Oktober hul deure sluit, is sy na Huis Stilbaai oorgeplaas.
Mossie het Maandag 12 September sy 91ste verjaarsdag gevier en het gesê hy gaan sy vrou baie mis, maar dat hy bevoorreg was om haar vir so 'n lang tyd aan sy sy te hê. Die herinneringe en lekker tye saam met haar sal hom vir altyd bybly.
Sy word oorleef deur Mossie, drie seuns, Nick, Fred en Lance, asook 'n dogter Laverne, 10 kleinkinders en 12 agterkleinkinders.
Die familie beplan 'n privaat herdenking van haar lewe.
Joy en Mossie Mostert met hul 68ste huweliksherdenking. Hulle sou op 4 Oktober vanjaar 70 jaar getroud wees het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'