HESSEQUA NUUS - Meeste mense hou honde, groot of klein, as waghonde aan om hulle te waarsku indien iemand wat nie daar hoort nie, hul erf of woning betree.
Maar watter doel dien die hond indien hy sonder ophou blaf? Suid-Kaap Forum, asook ons susterskoerant, die Mossel Bay Advertiser het die afgelope tyd heelwat klagtes hieroor ontvang.
Heelwat inwoners is al raadop is omdat hulle nie snags kan slaap as gevolg van bure se keffende honde nie. Een klaer het genoem dat haar bure blykbaar horende doof is, omdat die geblaf van hul honde hulle blykbaar glad nie pla nie. 'n Ander het gesê dat sulke eienaars eindelik daarvoor verantwoordelik is dat hul honde uitgesit word.
Adjudant-offisier Hans Busch van Riversdal-polisie raai inwoners aan wat hierdie probleem het, om 'n klag by die polisiestasie te gaan lê.
"Die klag word dan aan Hessequa-munisipaliteit oorgegee wat dit in terme van die verordening insake die aanhou en behandeling van honde en katte sal hanteer," verduidelik hy.
Die munisipale woordvoerder, Didi Budricks het dit by navraag beaam.
"Elke klagte word deur wetstoepassing/skut ondersoek met die doel om te bepaal of die hond se geblaf wel 'n oorlas of abnormaal is. Die eienaar sal ook verplig word om sekere maatreëls in plek te stel indien nodig."
Indien daar geen ander uitweg is nie, kan die eienaar die hond vrywillig opgee of mag die hond in terme van die skutverordeninge geskut word.
Die polisie, asook munisipaliteit doen 'n beroep op eienaars van honde en ander troeteldiere om seker te maak dat hulle die liefdevolle aandag kry wat hul verdien en wanneer hul alleen gelaat word, genoeg kos, water en speelgoed het om hulself mee besig te hou.
"Die optrede van eienaars teenoor hul eie diere is dikwels 'n weerspieëling van die eienaar se respek teenoor ander mense en hulself," het Budricks gesê.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'