RIVERSDAL NUUS - Gehardus Michaels is Saterdag, 4 September met 'n mes doodgesteek omdat hy glo nie meer lus was vir verder kuier nie.
Hy is met 'n mes by sy huis op die plaas Swartheuwel by Riversdal vermoor, na bewering deur 'n vrou wat nie haar ry, of loop, wou kry nie.
Die oorledene was 30 jaar oud.
Michaels en vriende het glo by sy huis gekuier. Toe dit begin laat word, het die oorledene sy gaste versoek om te loop omdat dit laat was en hy bang was die geraas pla ander. Hy het glo saam met 'n vrou na die tuinhekkie geloop. Sy het haar glo vervies, na bewering 'n mes uitgepluk en Michaels in die nek gesteek. Hy kon nog in die huis instrompel en vir sy gaste sê: "Kyk, sy het my gesteek," maar toe ineengestort. Michaels is op die toneel dood verklaar.
Na die voorval het omstanders vir die polisie gesê dat die vrou wat hom gesteek het aan hulle erken het dat sy hom "vrekgesteek" het, maar die mes was skoonveld.
Die verdagte is die aand om 23:15 in hegtenis geneem en 'n moorddossier is geopen. Sy het Maandag in die hof verskyn. Die ondersoekbeampte is sers Wayne Arries van die speurtak op Riversdal.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'