Daniel 'Ou By' van Wyk (41) het sowat 150 meter vanwaar hy aangerand was, inmekaar gesak toe hy net oorkant 'n drinkplek glo op pad na die daghospitaal was.
"Inligting tot ons beskikking dui daarop dat die oorledene en die 22-jarige verdagte, Lukas Smit, in ‘n argument betrokke was in Haigstraat by die Uitkyk-plotte. Na bewering het die verdagte die slagoffer met ‘n skerp voorwerp, vermoedelik ‘n mes in die bors gesteek. Die oorledene het sy bewussyn op die toneel verloor en is later deur die polisie op die toneel aangetref met die steekwond aan sy bors," het kapt Bernadine Steyn, Suid-Kaap polisie woordvoerder gesê.
Van Wyk se twee honde het by hom gelê en waghou tot die forensiese voertuig opgedaag het. Die verdagte is later gearesteer en het Dinsdag, 3 Junie in die plaaslike landdroshof verskyn op ’n klagte van moord. Hy is op eie verantwoordelikheid vrygelaat en die saak is uitgestel tot 15 Julie.
Van Wyk het drie dogters, Madelein (14), Melanie (11) en Denelee Hendricks (22 maande). Volgens Madelein het haar pa nie meer by hulle gebly nie, maar het hy getrou elke maand vir haar ma en sy saamleefmaat van 17 jaar tot ongeveer vier maande gelede, Magdalena Hendricks, geld gebring.
LEES 'N VORIGE NUUSFLITS

Die twee honde van die oorledene hou wag by hul baas se liggaam terwyl inwoners nuuskierig rondstaan.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'