Gallery Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Branville Saayman, graad 9-leerder van Hoërskool Albertinia se gedig teen vrouemishandeling gaan eersdaags oor die radio gehoor word.
Die gedig, Ek is vrou het in Vrouemaand (Augustus) vorm begin aanneem toe hy een aand na 'n program gekyk het toe 'n onderhoud met 'n bekende aktrise gevoer is oor dinge wat sy deurgemaak het.
"Ek het dadelik 'n boek en pen gaan haal, want die aktrise se woorde 'te genoeg' het vasgesteek en ek het begin skryf," vertel hy. "Elke vers of sin begin dan daarom ook met dié woorde."
Hy noem dat hy nooit gedink het dat hy 'n gedig sou kon skryf nie. "Ek hou daarvan om te skryf en akteur te wees, want dit is my droom oor wat ek eendag graag wil word. Reeds op laerskool het ek probeer om my eie stories te skryf." Branville ken iemand wat deur dieselfde trauma as die gemelde aktrise gaan en daarom het hy die geleentheid gesien om die gedig te skryf.
Foto's: Albertinia leerder dig teen vrouemishandeling
Sy gunstelingvak is kuns en kultuur. Sy onderwyser, Joanne de Waal wat drama studeer het, gee hom leiding om op sy spraak- en toneelspel te verbeter.
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Hy hou daarvan om na akteurs op televisie te kyk om te sien hoe hulle praat en op tonele reageer. Hy het ook 'n kanaal op YouTube gevind waar leiding in toneelspel gegee word, alles om hom op te skerp.
Van die toekennings wat hy onder meer verower het, is 'n brons medalje by die ATKV-tienertoneelkompetisie vanjaar vir die spel Jy judge my lewe en hy was verlede jaar 'n finalis by die Suidooster-kompetisie, wat in samewerking met die Jakes Gerwel-stigting aangebied was.
"By laasgenoemde het hulle gesê ek is te jonk om deel te neem, maar ek het die kortlys gehaal. Mense wat saam met my op die kortlys was, het reeds grade en diplomas agter hul naam gehad en ek was absoluut 'n groentjie," vertel hy trots. Hy sluit af: "Ek voel geëerd dat 'n bekende aktrise soos Danielle Retief van die sepie 7de Laan my gedig op die radio gaan voorlees."
• Die uitsending sal Woensdag, 23 September tussen 19:00-20:00 op Eden FM uitgesaai word.
Branville Saayman. Foto's: Mariska Visagie
Vorige artikel: 'n Gebore akteur
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'