BATHURST NUUS - Strawwe kompetisie het geheers tussen die onderskeie provinsiale spanne by die 2017 Old Mutual Insure nasionale jeugskoukampioenskap vroeër in Oktober op Bathurst.
Moeder Natuur se wispelturige elemente wat alles van reën en ysige wind tot drukkende hitte gebring het, het tot 'n unieke energie tydens die kampioenskap bygedra.
Die Wes-Kaap het vir die 12de agtereenvolgende jaar as wenners uit die stryd getree.
Hulle ontvang ook die trofee vir die span met die beste administrasie.
Namakwaland is die span met onder 30 lede wat die meeste punte behaal het en die Oos-Kaap ontvang die toekenning vir die beste stalversorging.
"Die kompetisie het uitstekend verloop en dit was deurgaans duidelik dat die standaard baie hoog was," het Breyton Milford, voorsitter van die nasionale landboujeugvereniging gesê. Meer as 400 kinders het deelgeneem.
Hy moedig ouers aan om hul kinders te laat deelneem. "Daar is baie geleenthede regoor Suid-Afrika met al nege provinsies wat betrokke is. Jeugskou gee kinders selfvertroue, wakker sportmangees by hulle aan leer hulle dissipline."
Die kampioenskap
Deelnemers het 'n eksamen geskryf en is ook vir die was en voorbereiding en skoumanskap beoordeel.
Daar word onder andere gekyk of die diere se neus, bek en hoewe volgens die betrokke standaarde netjies en skoon is, terwyl hulle goed afgedroog moet word omdat dit 'n rol by hul gesondheid speel.
Die wedvlugduif-, sierduif- en pluimveeskou moes as voorsorgmaatreël te midde van voëlgriep-uitbrekings op 'n plaas naby Port Alfred gehou word.
Op 'n warm tweede dag is skoumanskap in die ring beoordeel en word streng gekyk na hoe die leerder met die dier werk.
Hulle moet die dier korrek in bring, laat staan, vertoon en die beoordelaar se hanteringsopdragte uitvoer.
Ook in die afdelings vir kulinêre kuns en suiwelbereiding word 'n baie hoë standaard gehandhaaf. Die kinders moes verskeie geregte maak en hul kreatiwiteit daarmee inspan.
Daar was 14 afdelings waarin kinders in drie ouderdomsgroepe meeding, naamlik:
- Suiwelbeeste,
- Vleisbeeste,
- Wolskape,
- Vleisskape,
- Melkbokke,
- Veselbokke,
- Boerbokke,
- Perde,
- Sierduiwe,
- Wedvlugduiwe,
- Hoenders,
- Konyne,
- Kulinêre kuns en
- Suiwel-bereiding.
Die ouderdomsgroepe is Junior Junior (5-9), Junior (10-15) en Senior (16-18).
Vir meer inligting besoek www.nays.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Bathurst, Hessequa nuus'