Update
HEIDELBERG NUUS - Die jeugtak van Heidelberg gemeenskapspolisieforum (GPF) het Woensdag, 16 Junie hul Jeugdag in die dorp se stadsaal gevier.
Die verrigtinge is deur sers Imorgene Hendricks, fasiliteer. Gavin Riddles, oud-Heidelberger en gemeenskapsaktivis het as gasspreker opgetree.
Heinrich Hartnick, plaaslike raadslid en GPF-voorsitter het ook die vieringe bygewoon. Nagenoeg 25 jeugdiges, ook vanaf Riversdal het die verrigtinge bygewoon.
Verskeie van die aanwesiges, waaronder Elmarie Jegels, Newton Tengani en die Riversdal Simply Smooth Band van Gavinethea Kortjé en Chade Joseph het verskeie sang- en voordrag-items gelewer. Gilmare Roberts en Nathan Ruiters het ook hul insette gelewer.
Die groep jeugdiges van Heidelberg en Riversdal het die Jeugdagvieringe bygewoon. Voor sit Andrid Goliath, Len-Mary Hendricks, Charmaine Esau (plaaslike Jeugtakleier), Gavin Riddles (gasspreker), Heinrich Hartnick (GPF voorsitter) en Claradine Pietersen. Agter in die middel staan kapt Mervyn Zana en heel regs staan sers Imorgene Hendricks. Foto: Clive Pretorius
Len-Mary Hendricks het 'n kers ter herinnering aan die jeug van 1976 aangesteek.
Riddles het tydens sy insiggewende toespraak die jeugdiges daarop gewys dat hulle op hul loopbane moet fokus en nie ophou droom nie. Hy het hulle ook gewaarsku om hulle nie aan die sogenaamde luilekkerlewe wat misdadigers klaarblyklik lei, te steur nie.
"Wees gewaarsku, moenie die kort pad na sukses nastreef nie, dit hou niks goed vir julle in nie. Harde werk werp vrugte af."
"Onthou al die geleenthede is nou daar, gryp dit met beide hande aan en verseker jou toekoms is suksesvol," het Riddles benadruk.
Hartnick het die jeug aangespoor om die regte keuses te maak en sukses na te jaag.
"Julle leef vandag in 'n era van uitdagings waar baie keuses gemaak moet word. Jy kan 'n goeie of slegte keuse maak. As die leiers van môre moet julle jul regmatige plek in ons gemeenskappe inneem. Vandag is julle ons trots; maak 'n verskil daar waar julle ookal beweeg."
Hartnick het die versekering gegee dat hulle as die huidige leiers nie die jeugdiges op hul eie sal laat nie.
"Ons waardeer julle en kan julle nooit in die steek laat nie. Julle is die hoop vir die toekoms."
Elmarie Jegels, plaaslike jong sanger betower die aanwesiges met haar goue stem.
Andrid Goliath voer geestelike danspassies uit.
Die groep Simply Smooth, Jayden Francies, Gavinethea Kortjé en Chade Joseph lewer hul sangitem.
Vorige artikel: Jeugtak eer ook Jeugdag
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'