Die verrigtinge het met 'n optog vanaf die Anglikaanse kerk weggespring, waarna hul op maat van die Royal Crusaders se musiek na die burgersentrum beweeg het. Die program het gefokus op die sosiale euwels waaraan jongmense blootgestel word en buiten verskeie sprekers het New Life, 'n teatergroep van Mosselbaai, 'n gratis opvoering oor dié onderwerp aan die stampvol gehoor aangebied.
Rdl Emor Nel, uitvoerende burgemeester van Hessequa munisipaliteit, het in haar toespraak gesê dat die jeug die belangrikste mense in ons gemeenskap is, omdat dit hulle is wat agterbly wanneer ons nie meer daar is nie en die toekoms moet bou.
"Wanneer daar egter nie geld is vir geleenthede soos om verder te leer nie, lei dit in baie gevalle tot misdaad en verwaarlosing. Die munisipaliteit bied 'n paar geleenthede aan die jeug teen vergoeding waartydens broodnodige ondervinding opgedoen kan word, maar die plaaslike regering beskik nie oor voldoende fondse om werklik 'n verskil te kan maak nie - en dis hoekom die regering moet help." Sy het afgesluit deur te sê dat almal moet saamwerk en hande vat met hul kerk, skool en die munisipaliteit.
Past John Gertse het gesê dat die jeug moet kyk na die Sleeping Beauty. "Dis 'n pragtige berg, maar moeilik om uit te klim en daarom het ons iemand nodig waarop ons kan steun. Kyk na jou maat langs jou en sê vir hom of haar: Ons is daar vir mekaar, ek gaan nie jou hand los nie." Sers Busch van die plaaslike polisie het kortliks vertel van sy eie slegte omstandighede waarin hy grootgeword het, maar dat hy nie toegelaat het dat dit hom onderkry nie. "In 1976 in die ou bedeling en toe die polisiewaens nog geel was, was ek vir ses dae in die polisieselle gegooi en daar het ek besluit ek gaan eendag 'n polisieman word. Toe ek 18 was, is my welsyngeld (vandag se All Pay) weggevat, maar ook dit het my nie teruggehou nie en ek het matriek klaargemaak. Moenie dat jou omstandighede jou terughou nie, maar onthou dat daar 'n prys is wat jy moet betaal, naamlik respek, dissipline en gehoorsaamheid," het hy beklemtoon.
Doreen Hartnick het kortliks oor HIV/Vigs gesels en gesê dat daar baie suksesse is, maar ongelukkig ook hartseerverhale. Sy het kinders, veral tussen die ouderdomme van nege en 14 gewaarsku om weg te bly van seksuele aktiwiteite.
"Geniet jou kindwees terwyl jy kan. Jou tyd om groot te wees kom nog," het sy gemaan en bygevoeg dat dit ongelukkig die meisies is wat die ergste ly, nie net onder HIV/Vigs nie, maar met tienerswangerskappe.
Henri Juta het 'n persoonlike getuienis gelewer oor sy lewe as dwelmsmokkelaar en -gebruiker en die lang pad na herstel, wat moontlik gemaak was deur sy Skepper en met behulp van sy ma. Die akteurs van New Life het elkeen 'n euwel voorgestel tydens hul opvoering: Drank, dwelms, diewe, vloek, moordenaars, verkragters en die tong. Tydens elkeen van hierdie euwels is dit uitgespel hoe jongmense verlei word deur hul omstandighede, slegte ouers en maats. Die oorwinning is egter behaal oor al dié euwels deur die genade van Jesus Christus. "Alles kan oorwin en begrawe word deur geloof, want ons God het altyd die laaste sê."
Tussendeur het die Royal Crusaders, die AGS jeuggroep met I wanna be more like you, Jesus, die Revivals met 'En ek sal jubel' en ook die toeskouers met samesang opgetree.
FOTOGALERY
'The Revivals' jubel en dans tot eer van die Here op maat van sang deur Anne Saayman en Selma Hartnick.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'