HEIDELBERG NUUS - Die oorstromings wat Heidelberg jare gelede ondervind het en waarvan die laaste in ongeveer 2013/14 was, het veroorsaak dat Hessequa-munisipaliteit sekere verbeterings aan die kanaal in Krigestraat moes aanbring.
Daar is eindelik besluit om die oorgang/damwal oor die kanaal te verwyder. Na 'n hidroliese ondersoek geloods is, is besluit om die oewer van die rivier met die vestiging van gabions te stabiliseer.
Die Lotter Familie Trust, eienaar van die eiendom wat aan die kanaal grens, het egter beswaar teen die munisipaliteit aangeteken omdat die oewer so gestabiliseer was dat die trust nie meer gerieflike toegang tot die rivierloop het nie.
Chris Lotter, wat namens die trust optree, het ook aan Suid-Kaap Forum gesê dat hulle slegs verlang dat die waardasie aangepas word, belastings teruggeskryf moet word en dat die gedeelte wat nou nie meer toeganklik is nie, op die munisipaliteit se koste van die res van die erf afgesny en 'n nuwe grens geskep moet word.
Volgens hom het die jarelange korrespondensie tussen die trust en munisipaliteit egter op 'n dooie punt geëindig.
"Ons is ongeveer twee jaar gelede in kennis gestel dat ons beswaar teen die waardasie van die hand gewys is. Ons betaal dus vir jare belastings en tariewe op 'n gedeelte wat onbruikbaar is," het Lotter gesê. "Dit gaan ook 'n probleem veroorsaak indien ons sou besluit om die erf te verkoop, wat nie regverdig teenoor 'n koper sal wees nie."
Op die Suid-Kaap Forum se navraag het die munisipaliteit in hul kommentaar gemeld dat dit duidelik gemaak word dat belastings op grond van die waardasie van 'n spesifieke erf vasgestel word.
"Hessequa-munisipaliteit let met verbasing daarop dat mnr Lotter nou, na verloop van twee jaar weer hierdie kwessie opper. Daar is reeds gedurende Februarie 2019 aan mnr Lotter, met die nodige motivering meegedeel dat Hessequa nie sy versoeke kan akkommodeer nie."
In verdere kommentaar meld die munisipaliteit dat die trust wel teen die waardasie van hul eiendom beswaar aangeteken het, maar dit nie geslaag het nie.
"Meneer Lotter is daarop gewys dat hy kan appelleer, van welke geleentheid hy nie gebruik gemaak het nie. Die waardasie van die eiendom is dus gehandhaaf ten spyte van die onbruikbare gedeelte.
"Die die eiendom is nou weer gewaardeer tydens die algemene waardasie wat op 1 Julie 2021 in werking tree en kan mnr Lotter die wetlik voorgeskrewe prosedure volg." Volgens die munisipaliteit sal die regstelling van die kaart geen voordele vir die trust óf die munisipaliteit inhou nie.
"Laaste moet dit gemeld word dat Hessequa die gabions aangebring het juis om stormwaterskade te beperk en welke verbeterings gedoen is in terme van Stormwater Wetgewing."
• Hessequa-munisipaliteit versoek dat klagtes en navrae oor munisipale dienste direk aan die munisipaliteit gerig word (028 713 8000 of epos info@hessequa.gov.za).
Die gabion teen die oewer veroorsaak dat die eienaar van die erf nie vrye toegang tot die rivierloop het nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'