STILBAAI NUUS - Jagersbosch se gemeenskapsorgdienssentrum sou nie kon voortbestaan en diens lewer as dit nie was vir die wonderlike vrywilligers wat hulle tyd en vaardighede aanwend om 'n verskil te maak nie.
Dit is al algemene kennis dat die regering Jagersbosch se subsidie met die helfte besnoei het, maar met genade en harde innoverende werk lewer hulle nog steeds 'n kwiksilwer diens aan diegene in die gemeenskap wat dit die nodigste het.
Tydens 'n byeenkoms by Die Waenhuis op Woensdag 22 Februarie het Pieter Mostert, voorsitter van die Jagersbosch-direksie en die ander direkteure, Adriana Loots en Willie Schoombee die vrywilligers en permanente werkers van Jagersbosch bedank vir hulle onbaatsugtige diens aan die gemeenskap.
Pieter sê egter dat hulle heeltyd soek na nog vrywilligers en hy pleit dat mense asseblief hulle tyd en vaardighede bring om Jagersbosch te help om voort te gaan met die wêreldklasdiens wat hulle in Stilbaai en Melkhoutfontein lewer. Jagersbosch soek vrywilligers in die administratiewe afdeling, finansiële afdeling, en met tuinbou, onderhoud en in die kombuis.
Hy het afgesluit deur te sê 2022 se basaar was die grootste en beste een in Stilbaai met meer as 100 vrywilligers wat betrokke was. Hulle het ongeveer R200 000 gemaak uit die basaar en dit het hulle boeke laat klop.
Marius van Tonder, die algemene bestuurder van Jagersbosch-gemeen-skapsorg het gesê dat Jagersbosch al in Februarie 1986 ontstaan het toe 'n groep inwoners van Stilbaai 'n behoefte onder 50 bejaardes geïdentifiseer het vir basiese dienste, bedversorging en maaltye.
Die bedoeling was om 'n diens te vestig wat onafhanklik van enige kerk sou wees.
Teen Augustus 1989 is geboue op die plaas Jagersbosch beskikbaargestel en terselfdertyd is dienste uitgebrei na Melkhoutfontein.
Hulle het fasiliteite soos die Friedensheim-kliniek, die liefdadigheidswinkel en Die Waenhuis in Stilbaai, Soeterus, Stillerus en die dagsorgsentrum vir gestremdes in Melkhoutfontein, asook vervoer en 'n kantoor.
Marius sê die dienste wat hulle aanbied sluit in gesondheidsorg met kliniekdiens en tuisversorging, 'n noodfoon, kontak en terugvoer na familie, verhuring van apparate asook aktiwiteite en inligtingsessies.
Die voedselsorgafdeling verskaf gemiddeld 1 500 maaltye per maand in Stilbaai en by Stillerus en die Kwikkies nog 370 teen 'n minimum van R35 en maksimum R60 per ete.
Ander dienste sluit in uitreikprogramme, verblyf en 'n dagsorgsentrum vir gestremdes.
In 2022 was daar sestien uitreikprogramme van Maart tot Desember en dit was elke keer 'n reusesukses.
As jy tyd en vaardighede het om te deel, skakel die kantoor by Jagersbosch by 028 754 1934.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’