STILBAAI NUUS - Die belangrikste punt wat tydens Jagersbosch se algemene jaarvergadering op Woensdag 30 Mei in die dorp se gemeenskapsaal beklemtoon is, was dat meer lede benodig word.
Dit is om dié nie-winsgewende organisasie, wat 'n uiters belangrike rol in die gemeenskap speel, se voortbestaan te verseker. Met die voorlegging van die finansiële state, is dit duidelik dat die huidige finansiële posisie die beste in jare is.
Met die uitsondering van slegs een - dié van 'n groter ledetal - het die direksie en bestuur hul doelwitte van die vorige jaar bereik.
Dit sluit in
- Die verbetering van die finansiële prestasie, asook verbetering van die finansiële verslaggewing en die daarstelling van kostesentrums.
- Die formulering van 'n langtermyn strategie vir 10 tot 15 jaar, asook die formulering van 'n langtermyn begroting wat aan inflasie gekoppel is.
- Hersiening van die organisasie se struktuur en die geleidelike aanpassing van tariewe om die impak van inflasie te neutraliseer.
Die vergadering is ook ingelig oor die vier staatsdepartement-projekte wat deur Jagersbosch bestuur word.
Dit sluit die volgende in: Dagsorg vir gestremdes, gemeenskapsgebaseerde tuisversorging, MIV/Vigs-berading, toetsing en geïntegreerde skoolgesondheidsdiens.
Hierdie projekte word deur 32 personeel-lede van Jagersbosch bedryf en sal die hele Hessequa-munisipale gebied bedien.
Die direksie het ook 'n dringende beroep op die lede en kerke gedoen om behoeftige bejaardes en ander wat hulp nodig het, aan Jagersbosch uit te wys om hulle in staat te stel om na hierdie mense uit te reik.
Urheim en Friedensheim is geleë by Jagersbosch en is van die oudste huisies op Stilbaai. Dit dien as vakansie-akkommodasie en kan deur Jagersbosch bespreek word. Foto's: Elza Thiart-Botes, korrespondent.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'