Update
STILBAAI NUUS - 'n Kennisgewing in Suid-Kaap Forum op 13 Mei waarvolgens aansoek gedoen is om die hersonering van die erf waarop die Drie Ankers disko geleë is om 'n Build It hardewarewinkel daar te vestig, het letterlik opslae onder die inwoners van Strandloperkruin veroorsaak.
Besware teen die aansoek moet teen 30 Junie by Hessequa-munisipaliteit ingedien wees.
'n Petisie om beswaar teen die hersonering van die erf te maak is opgetrek. Die 98 huishoudings in die onmiddellike omgewing is eerste geteiken en 94 het hulle sterk teen die ontwikkeling uitgespreek.
Die petisie het baie vinnig verder versprei en selfs uit Australië is besware aangeteken.
Willie Scheepers, GPF-koördineerder vir Strandloperkruin sê baie duidelik dat die gemeenskap nie teen ontwikkeling is nie. Hulle voel egter sterk dat 'n hardewarewinkel nie in 'n woongebied hoort nie.
"Die verkeer gaan 'n groot probleem wees en daar gaan heeldag en aldag groot vragmotors deur die woonbuurt ry om aflewerings te doen. Die gewag om uit die Jongensfonteinpad af te draai, gaan verkeersopeenhopings veroorsaak en 'n gevaarlike afdraai nog gevaarliker maak. Dan praat ons nog nie eens van die heeldag se lawaai nie," het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat hulle ook baie bekommerd is oor veiligheid.
Op sosiale media het 'n inwoner, Helene Strauss, gesê dat dit voorkom asof die munisipaliteit meer vir geld omgee as vir die wense en bekommernisse van die inwoners van Strandloperkruin. "'n Koffiewinkel of klein supermark sal beter deug in 'n residensiële gebied." Die groot vragmotors, lugbesoedeling en geraas is vir haar ook 'n probleem.
Uit die heelwat kommentare het dit duidelik geblyk dat dit oorwegend teen die beplande ontwikkeling is. Daar was egter ook diegene wat nie 'n probleem daarmee het nie.
Ander kommentare (direk aangehaal)
"Ontwikkeling sal voortgaan en daar is 'n behoefte aan kompoeterende winkels soos Build It. Is die probleem regtig die tipe winkel, of is die probleem daai tipe besigheid in "my area"?.
"Dit gaan baie keer oor NIMBY. Not in my backyard, maar ons worry nie so baie oor ander mense se backyards nie."
"Dis 'n baie swak idee en dis 'n woongebied, nie 'n industriële gebied nie. Gaan soek 'n ander plek."
"Ek kan verstaan hoe werk mense se koppe nie. Hulle kom hou vakansie in Stilbaai, vind dat dit 'n "lieflike still plekkie is met die mooiste natuur en rustigheid," besluit dan om daar te kom bly en wil dan dit alles verander met hul gierigheid, selfsug en gemak."
"Die mensDOM met sy gierigheid en selfsug is seker van die walglike, mees vernietigende skeppings op aarde!! Oor nog 5 jaar (as dit nie baie minder gaan wees nie) gaan daar ABSOLUUT niks van Stilbaai en sy mooi oor wees nie!
In kommentaar op die Forum se navraag, het Didi Budricks, hoof van openbare betrekkinge gesê dat die aansoek nog in proses is.
"Na die verstryking van die sperdatum word die besware geëvalueer vir finale oorweging deur ‘n beplanningstribunaal. Die munisipaliteit lewer geen kommentaar terwyl die aansoekproses aan die gang is nie."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'