ALBERTINIA NUUS - Suid-Kaap Forum het inligting van 'n Albertinia-inwoner ontvang wat verkies om anoniem te bly dat 'n tweejarige kind liggies deur 'n voertuig beseer is op Saterdagaand, 29 Januarie.
"Die omstandighede daarrondom is baie vaag," volgens die persoon.
Hy het egter bygevoeg dat die kind glo na agtuur die aand teen die bakkie se sleepwa vasgehardloop het, sonder dat die bestuurder daarvan bewus was.
"Toe hy daarvan hoor, het hy onmiddellik na die toneel teruggekeer, waar 'n horde mense met wapens hom ingewag het. Hy moes te voet van die toneel wegvlug en dis toe dat die bakkie deurloop."
Die koerant is in besit van 'n video waar 'n manspersoon die bakkie wat blykbaar aan die bestuurder daarvan behoort, met 'n kolf bydam. Al die vensters is uitgeslaan en die hele voertuig is so beskadig dat dit deur 'n insleepvoertuig verwyder moes word.
Volgens die anonieme persoon was dit glo die pa van die kind wat die skade aangerig het. Hy het ook genoem dat die oproeriges na die bakkiebestuurder se huis is waar hulle sy hek oopgetrap en sy vrou rondgeruk het.
By navraag het Albertinia-polisie se kommunikasiebeampte, sers Ciska Badenhorst die voorval bevestig.
"Die kind was na Riversdal-hospitaal geneem, maar sy het nie ernstige beserings opgedoen nie en het die volgende dag weer gespeel."
Badenhorst het bygevoeg dat die bakkiebestuurder van die oproeriges gevlug en die polisie hom by sy huis gaan oplaai het om sy bloed te trek om uit te vind of hy onder die invloed was, aldan nie.
"'n Saak van roekelose en nalatige bestuur is aanhangig gemaak, maar daar is ook 'n saak van opsetlike saakbeskadiging gemaak. Die kinderwelsyn gaan ook die saak ondersoek omdat 'n kind hierby betrokke is."
Die roekeloos en nalatige bestuursaak kom op 10 Maart voor.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'