Update Video
RIVERSDAL NUUS & VIDEO - 'n Pick n Pay-tak het Donderdag 4 April in die dorp geopen.
Douvoordag het nuuskierige inwoners voor die nuwe winkel in Kerkstraat tougestaan om eerste 'n winskoop op te raap. Hulle is verheug dat daar nou meer as een supermark in die dorp is waar hulle inkopies kan doen.
"Ek is nuuskierig om te sien hoe dit binne lyk en wat hulle aanbied," het Samantha Taute, een van die inwoners wat geduldig buite gewag het dat die deure moet oopmaak, gesê. "As 'n huisvrou sal dit goed wees om te sien of hier winskopies te kry is. Inwoners hoef nou ook nie meer brandstof te gebruik om na 'n Pick n Pay op 'n ander dorp te ry nie."
Darold Abelson, nog 'n inwoner, wou veral kom kyk hoe die pryse verskil van ander supermarkte s'n. "Kompetisie is 'n goeie ding," het hy gesê.
Jacques Oberholzer, mede-eienaar, het gesê ten minste 50 basiese voedselsoorte, soos suiker, meel en melk, is as openingsaanbod teen spesiale pryse aangebied. Alhoewel daar nie 'n groot stormloop was nie, was daar deurgaans mense in die winkel.
Beplanning en voorbereiding vir die opening van die Pick n Pay het in Oktober 2018 begin. Die winkel is in die Sentra-gebou, wat voorheen 'n OK gehuisves het, ingerig en verskaf werk aan 43 mense, die vier bestuurders uitgesluit.
Om voorsiening te maak vir voldoende parkeerplek, gaan die straat tussen die nuwe winkel en die NG Kerk Riversdal in 'n eenrigtingstraat verander word. Daar is ook 45 parkeerplekke op die Makadas-plein. "Dit is 'n entjie om te stap, maar ons het mense in diens geneem wat klante kan help om hul inkopies by hul voertuie te kry."
Oberholzer het inwoners bedank vir die geleentheid om die Pick n Pay-voetspoor na die dorp te bring. "Ons wil saam met die gemeenskap die besigheid bedryf en by die gemeenskap betrokke raak." Hy nooi klante om enige klagtes of komplimente aan hom oor te dra.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Nuwe winkel het dorp aan die gons
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'