Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO'S - Klimaats-verandering, wat met uiters hoë temperature gepaardgaan, intense droogtes en erge vloede hou ernstige gevolge vir boere in wat elke druppel water nodig het.
Volgens Japie Buckle, tegniese raadgewer van die departement van omgewingsake, is verskeie jare se uiters lae reënvalsyfers die hoofrede vir die slegte toedrag van watersake omdat opvanggebiede en lope oortrek geraak het met indringerplantegroei wat kosbare water gebruik.
"Dit is nou meer as ooit tevore vir grondeienaars en -bestuurders belangrik om drastiese stappe te neem ten einde te verseker dat opvangsgebiede en riviere skoongemaak en indringerplante uitgeroei word," sê Cobus Meiring van die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief (SCLI).
Die SCLI is met befondsing van die Tafelbergfonds ('n filiaal van WWF SA) besig om grondeienaars in kritiese rivierstelsels te help met die ontwikkeling van bestuursplanne sodat hulle indringers doeltreffender kan bestuur en uitroei.
Die fokus is op riviere in die Klein Karoo, tewete die Nelsrivier wat die Calitzdorpdam voed en in die Tuinroete die Grootbrak-, Kaaimans-, Touw-, Goukamma- en Knysnariviere.
In Hessequa, waar die Gourits-, Goukou-, Vette- en Duivenhoksriviere voorkom, word die uitroei van indringerspesies hoofsaaklik deur CapeNature en meer onlangs die Gourits-Groepsbiosfeerreservaat (GCBR) hanteer.
Die waterhiasint, suurturksvy, pers pampasgras, bobbejaandruif, luisboom, lantana, Skotse- of skaapdissel, sering en kasterolieplant is die grootste probleem in die streek se rivierstelsels. Ander plante wat volgens CapeNature 'n negatiewe invloed in die opvanggebiede en langs die oewers het, is rooikrans, swartwattel, Port Jackson, silwerhakea, langblaarwattel, stinkboon, Australiese mirteboom, bosbloekom, trosden en swarthout.
Die GCBR het vanjaar begin om hierdie indringerbome in die opvanggebied van die Goukourivier uit te roei as deel van die hul Goukou Resilient River Project, wat deur 'n buitelandse trust befonds word. Die projek maak gebruik van plaaslike kontrakteurspanne wat gepaste opleiding ontvang voor hulle begin het om die bome te verwyder. Die hout sal vir brandhout verkoop word.
Sien twee video's hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Indringers versmoor riviere
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'