ALBERTINIA NUUS - Cicil John Oktober van Albertinia, bekend as oom Nyn of soos sommige hom genoem het, Lavis, is skielik op 9 Junie oorlede.
Hy is op 21 April 1945 gebore. 'n Man wat vir lank op die dorp onthou sal word en selfs sekere dele van die land, want almal het hom geken.
Hy was 'n koorlid, koster en het van 'n jong ouderdom af op die brigade diens gedoen tot hy 'n majoor geword het. As 'n jongman het hy vir jare vir die plaaslike Rangers-rugbyklub uitgedraf.
Drie huldeblyke is voorgelees waarin gesê word dat hy beslis gemis sal word veral met die blaas van die trompet Sondae, die lui van die kerkklok en sy stem by die koor.
Honderde begrafnisgangers het hul laaste eer Saterdag 16 Junie betoon. Sy diens het op Albertinia-sportterrein plaasgevind. Die stoet is daarvandaan deur brigades begelei tot by die St. Lukes kerk waar eerw. Annie Saayman die diens waargeneem het. Na die diens is hy deur familie, vriende en brigades van die streek na sy laaste rusplek gedra. Die gemeenskap wil sy vrou, Ant Kit, kinders en bedroefde familie alle sterkte toewens.
Lykswa op pad na die St. Lukes kerk in Albertinia. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'