STILBAAI NUUS - 'n Skeur tussen die oorblywende twee hoofstamme het groot gevaar ingehou vir mens en dier en 'n stormsterk wind kon dalk net die oorsaak wees dat een - of albei - takke omval.
En dis presies wat Maandag-oggend in die vroeë oggendure gebeur het toe die hoofstam aan die regterkant omgekantel het.
Gelukkig was daar niemand in die omtrek nie.
FOTOGALERY: Ikoniese boom se dae getel
Dié stam het netjies op die skoolsportterein neergestort en geen skade aangerig nie.
Maar as die oorblywende stam nie gou afgesaag gaan word nie, kan dit pad se kant toe val en die kragboks net buite die skoolterrein beskadig.
Dit sal die inwoners in daardie omgewing vir 'n hele ruk sonder elektrisiteit laat.
Christo Fourie, geboue- en terreinbestuurder by die skool, het aan die Suid-Kaap Forum gesê die skool wag al geruime tyd op die departement van onderwys se veiligheidsafdeling om die boom te kom inspekteer en dit, hopelik, as 'n veiligheidsrisiko te verklaar.
"Ten spyte van talle belofte en weeklikse oproepe van ons kant af, was daar nog net leë beloftes."
Hoewel hy nie met sekerheid kan sê hoe oud die boom is nie, reken Fourie dit moet baie na aan 'n
100 jaar oud wees indien nie ouer nie.
"Ek het hier grootgeword en skoolgegaan by Oakdale en ek is 64 jaar oud. Toe was die ou bloekomboom al klaar 'n reus."
Twee ander bloekombome is sowat drie jaar gelede afgesaag juis omdat hulle bekommerd was dat dit op die skoolterrein sou omval.
"Ons kon nie kanse waag nie en het besluit om dit as 'n voorsorgmaaatreël te laat afsaag. Dink net die gevolge as dit sou omval en leerders beseer of hul dood veroorsaak. Die gevolge is ondenkbaar."
Duisende leerders het oor die jare heen onder die ou bloekomboom verbygestap.
"Dis een van die dorp se ikoniese bakens en dit bied sekerlik goeie herinneringe vir oudleerders.
Nou's dit tyd vir dié ou grote om te "val."
Foto's: Hugo Redelinghuys
‘Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus’