Video
HEIDELBERG NUUS & VIDEO - Hulde is tydens die pas afgelope Hessequa Harmoniefees in Heidelberg aan een van die streek se mees bekendste inwoners, wyle Rosa Smit, gebring.
Smit wat in Stilbaai gewoon het, was 'n skrywer, digter en kunstenaar van formaat wat baie mense landswyd met haar talente en vernuf geïnspireer het.
'n Groep familielede, vriende en kennisse onder leiding van Irma Huysamen, inwoner van Stilbaai wat ook as sielsgenoot van Smit beskryf kan word, het Dinsdag, 21 September in die banketsaal vergader om haar nuutste digbundel, Die Slingerplant se Wintergroei bekend te stel.
Kyk 'n video hieronder.
Die bekende radio- en televisie-aanbieder, Bettie Kemp en ook deesdae 'n inwoner op Stilbaai, het 'n baie insiggewende en dramatiese voorlegging van 'n paar van haar gedigte aan die aanwesiges voorgelees. Smit se seun, Emile van Druten en sy gesin was ook teenwoordig.
Van Druten het tydens sy roerende toespraak vir Huysamen, Kemp en die aanwesiges bedank vir hul ondersteuning en liefde aan sy ma tydens haar verblyf op Stilbaai. Volgens hom was sy ongelooflik met haar omgang in die lewe, maar ook baie divers in haar werkswyse.
"My ma was polities intelligent en het die samelewing haar nie altyd verstaan nie. As ma en ouma was sy absoluut wonderlik en baie liefdevol. Sy was my held," het hy sy ontslape ma geloof.
Johan Coetzee van Naledi uitgewers het genoem dat hy haar nooit persoonlik geken het nie, maar uit haar e-posse kon hy sien dat sy 'n wonderliike mense-mens was. Volgens hom was dit 'n belewenis om by die geleentheid teenwoordig te wees.
Corneld du Plooy, een van Smit se Stilbaaivriende het haar as 'n vrou beskryf wat nooit geskroom het om te bid nie.
"Sy laat 'n diepe emosionele nalatenskap agter."
Huysamen het almal vir hul opkoms bedank en hul ondersteuning aan die nalatenskap van dié merkwaardige kunstenaar. Van Druten het aan elke aanwesige 'n kopie van haar jongste digbundel oorhandig.
Bettie Kemp spreek die aanwesiges toe.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'