Update
ALBERTINIA NUUS - Na die nuus van die noodlottige ongeluk waarin een van die drie oorledenes, Jacobus (Koos) Tarantal, skoolhoof van Oker Primêr was, het huldeblyke van oor die land ingestroom.
Saam met Tarantal het Rudi Koertzen, 'n wêreldbekende voormalige kriekettoetskeidsregter en Wouter Verwey, rugbyafrigter by Despatch-rugbyklub, asook by hul plaaslike hoërskool, omgekom.
Die tragedie het verlede Dinsdag, 8 Augustus, op die N2 naby die Stilbaai-afdraai plaasgevind.
Tarantal se begrafnis vind Saterdag 20 Augustus om 09:30 aan huis in Missionstraat 21, Albertinia plaas en om 10:15 vanuit die AGS kerk in dieselfde straat.
Uit skoolgeledere het Isaac Jansen gesê Tarantal was 'n allemansvriend, 'n gemeenskapsmens wat altyd bereid was om te help. "Hy het nooit die woord 'nee' gebruik nie. Hy was baie lief vir die skool en wou net sy gemeenskap dien."
John Prins het dit beaam en gesê Tarantal het altyd tyd gemaak om te luister. "Ongeag hoe groot of klein my probleem, hy was altyd daar. Hy was nie net 'n kollega nie, maar hy was 'n vriend, 'n mentor en 'n sprekende voorbeeld van nederigheid. Hy was 'n leier in die ware sin van die woord."
Volgens Armina Taute was Tarantal merkwaardig. "Hy was lief vir die kinders en het hulle gehelp met hul behoeftes. Ons gaan hom mis."
Een van Tarantal se neefs, Koos Tarentaal, het gesê hulle sal hom onthou as die liefdevolle man wat baie vir hul familie en die gemeenskap beteken het. "Koos sal onthou word vir sy goeie leierseienskappe, wat altyd 'n woord van bemoediging vir almal gehad het. Rus sag, ons weet dat jy nou saam met jou ouers, grootouers, broers en suster aan tafel in die hemel sit."
Tarantal word deur sy jare lange vriendin, Edwena Riddles, sy seuntjie, Jeraymio (3), twee broers en drie susters oorleef.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'