RIVERSDAL NUUS - Verskeie huisbrake het gedurende Mei in en om Riversdal plaasgevind.
Volgens Riversdal-polisie se stasie-bevelvoerder, lt kol Delicia Isaacs, is dit die eerste maand vanjaar wat huisbrake toegeneem het.
"'n Verdagte is reeds in hegtenis geneem en hy word met ten minste drie van die huisbrake verbind, asook 'n diefstal uit 'n motor," het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat die verdagte, wat in sy vroeë twintigs is, skuld beken het. Hulle vermoed dat hy by nog huisbrake betrokke kon wees.
Nog 'n verdagte is gedurende Mei vir 'n diefstal uit 'n voertuig in Hoofstraat in hegtenis geneem. "Dit was 'n nooddienste voertuig en die items wat gesteel was, is teruggevind."
Isaacs maan inwoners om hul vensters en deure gesluit te hou wanneer hulle nie tuis is nie.
"Dit geld ook vir jou voertuig wanneer jy inkopies doen of selfs iemand gaan besoek. Moenie waardevolle items daarin laat nie, want dit is 'n ope uitnodiging aan diewe," waarsku sy.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'