STILBAAI NUUS - Die Vriende en Familie-komitee, onder leiding van Hennie Slabbert, het die inwoners van Huis Stilbaai met 'n heerlike braai by hul jaareindfunksie op Donderdag 24 November onthaal.
Daar is agter die skerms gewoeker om dit 'n sukses te maak en Karlien Saayman, bestuurder van Huis Stilbaai, het die komitee vir hulle harde werk en reëlings bedank.
Die dag sou egter nie kon plaasvind as Tabeel en Stilbaai Slaghuis nie die vleis en wors geborg het nie. Feedem het gesorg vir die slaai en brode. Dit is altyd een van die hoogtepunte op die inwoners se kalenders en hulle het dit terdeë geniet.
Sonder donateurs, borge en mense soos die Vriende en Familie-komitee kan Huis Stilbaai nie behoorlik funksioneer nie.
Die al kleiner wordende staatsubsidie is net nie genoeg nie en inwoners se bydraes help net gedeeltelik. Om geld in te samel, is daar die jaarlikse gholfdag, pannekoekverkope en talle ander geleenthede wat die komitee jaarliks aanpak.
Hierdeur kon hulle die afgelope drie jaar R90 000 aan nuwe beddens bestee, die binnehof plavei en ook R35 000 aan Covid-verwante uitgawes bestee.
Hierdie onbaatsugtige diens deur 'n groep vrywilligers, in samewerking met die bestuur van Huis Stilbaai en mense met oop beursies en harte, maak van hierdie instansie 'n pragplek met gelukkige inwoners.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'