STILBAAI NUUS - Die Vriende en Familie-komitee van Huis Stilbaai, onder leiding van Hennie Slabbert, het Donderdag 12 Oktober hulle jaarlikse koek-en-tee-geleentheid gehad.
Soos wat die gewoonte nou al is, het Stilbaai Spar al die eetgoed verskaf en RD van Huyssteen met Die Plooiband het musiek gemaak terwyl almal uit volle bors saamgesing het. RD sê hulle noem hulself, tong in die kies, maar Die Plooiband, want hulle het nie eintlik 'n naam nie.
Huis Stilbaai se inwoners het hulleself uitgevat en dit soos 'n tipiese Engelse teemaaltyd (high tea) laat voel.
Die orkes het die verrigtinge laat vlamvat met samesang en tussendeur het daar selfs hier en daar 'n paar voete begin jeuk.
Die lewe in 'n huis vir bejaardes kan soms eensaam raak al is daar soveel mense in die kamers om jou en dis geleenthede soos dié waarna die inwoners uitsien om buite die normale net bietjie te lag en gesels. Hulle kan pragtig aantrek en saamsing en grappe maak, terwyl die komitee en personeel hulle met heerlike eetgoed en tee of koffie bedien het.
'n Gemeenskap wat sy bejaardes versaak is 'n verlore gemeenskap en al het jy geen familie in Huis Stilbaai nie sal jy die vreugde beleef van wat 'n klein bietjie bederf kan doen as mens by hul doen en late betrokke raak.
Met die samesang raak die lettertjies soms 'n bietjie klein.
Die Plooiband maak musiek vir Huis Stilbaai se inwoners. Van links: Bruce Waldeck, RD van Huyssteen, Alwyn Vorster en Hennie van Rooyen.
'n Mens kan nie anders as om te dink dat van hierdie mense net sowel jou ouers kon wees nie. Soveel van hulle sit dag in en dag uit in hulle kamers met die hoop dat iemand vir hulle gaan kom kuier en gaan vanaand teleurgesteld bed toe. Ergste is, hulle is net 'n telefoonoproep weg.
Daarom is die Vriende en Familie-komitee se ondersteuning en ook ander inisiatiewe so belangrik, want dit maak 'n reuseverskil in die lewens van een en almal by Huis Stilbaai.
Karlien Saayman, bestuurder van Huis Stilbaai, kan nie uitgepraat raak oor wat die Stilbaai-gemeenskap vir hulle beteken nie.
Die staat het sy bydraes so geweldig gesny dat hulle nie sal kan voortbestaan as dit nie vir die vrygewigheid van die gemeenskap is nie en sy kan nie genoeg dankie sê vir al die hulp en bydraes nie.
Die inwoners deel 'n gewyde oomblik te midde van die lekker kuier, sing, gesels en eet.
Die bordjies eetgoed word voorberei met Lee-Ann Ward Able (regs) van Stilbaai Spar wat bystaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’