HESSEQUA NUUS - Wêreld-gehoor-gestremdheidsdag is op Sondag 3 Maart gehou om vroeë identifikasie en voorkoming van doofheid, asook oor- en gehoorsorg te bevorder.
Mense ervaar die wêreld deur hul sintuie en veral gehoor is noodsaaklik vir kommunikasie en sosiale interaksie, wat mense in staat stel om verhoudings te smee en aan daaglikse aktiwiteite deel te neem.
Dr. Diane Bell, voorsitter van die Carel du Toit Trust en 'n kampvegter vir gehoorgestremdes wat die gesproke woord en die gebruik van gehoortegnologie bo gebaretaal verkies, het saam met verteenwoordigers vir ander gestremdhede 'n pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om te sorg dat onderskrifte op programme op alle televisiekanale ter wille van gehoorgestremdes voorsien word. Sy het die uitsluiting van gehoorgestremdes tydens die president se Staatsrede betreur.
Sy het ook die hoë koste verbonde aan gehoortegnologie onder sy aandag gebring en 'n versoek gerig dat die plaaslike vervaardiging van hierdie toerusting ondersteun word. Dit sal hierdie toerusting én batterye goedkoper maak en vir gestremdes werk skep.
Sowat 466 miljoen mense, waarvan 34 miljoen kinders, was volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se 2018-opname gehoorgestremd. Na verwagting sal daar in 2050 meer as 900 miljoen gehoorgestremdes wees.
In Suid-Afrika word sowat 6 116 babas per jaar (17 per dag) met 'n gehoorgebrek gebore. Weens 'n tekort aan voldoende toetsing word hierdie gebrek dikwels nie by babas diagnoseer nie, wat daartoe lei dat hulle nie later behoorlik leer praat nie.
Die Carel du Toit Trust beywer hom daarvoor dat die toename in gehoorgestremdheid erken word, dat geskikte voorkomende aksie, soos toetsing van alle pasgebore babas, asook toegang tot die nodige gehoortegnologie, rehabilitasiediens en kommunikasiemiddele en -produkte tot hierdie individue se beskikking gestel word.
Oorsake van doofheid
- Altesaam 60% van gehoorverlies by kinders is as gevolg van voorkombare oorsake, soos sekere aansteeklike siektes
- Blootstelling aan luide geraas – sowat 1.1 miljard jongmense tussen 12 en 35 kan doof raak weens die geraas in plekke van ontspanning
- Genetiese oorsake
- Komplikasies tydens geboorte
- Kroniese oorinfeksie
- Gebruik van sommige verdowingsmiddels
- Ouderdom
Mense met gehoorverlies vind baat by vroeë identifikasie, die gebruik van gehoorapparate, kogleêre inplantings en ander hulpmiddels, onderskrifte op televisie, gebaretaal en ander vorms van opvoedkundige en maatskaplike ondersteuning.
Besoek die Carel du Toit Trust se webblad www.careldutoit.co.za vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'