HESSEQUA NUUS - Vyf rolstoele is onlangs aan mense in die streek deur die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles in samewerking met Hessequa-munisipaliteit oorhandig.
Rdl. Margaret Jacobs (gemeenskapsdienste) en haar span het 'n meningsopname, veral onder liggaamlik gestremde persone begin doen. Hulle wou kyk waar hul mense kan bystaan om hulself te help sodat hulle meer onafhanklik kan wees.
Hulle glo dat elke persoon die reg het om met respek behandel te word. Party mense is met 'n gestremdheid gebore, ander is gestremd na 'n operasie of ongeluk.
'n Groot behoefte vir rolstoelle in die omgewing het onder hulle aandag gekom. Riddles het gesê: "Ons het dit ons missie gemaak om die gemeenskap betrokke te kry deur hulle van die probleem bewus te maak en dat dit iemand se lewe onherroeplik kan verander."
Mense het hul harte en beursies begin oopmaak om naasteliefde te betoon. Tydens een van Riddles se besoeke aan Slangrivier het iets sy hartsnare geroer. "Ek het na die dame afgekyk en was gevul met 'n hartseergevoel wat ek nie kon beskryf nie... een van volslae moedeloosheid. Ek het soveel om voor dankbaar te wees; gesondheid, werk en familie. Tog is dit nie altyd genoeg nie. Voor my is hierdie dame wat daagliks in soveel pyn is as gevolg van haar gesondheid, maar sy is dankbaar vir dit wat sy het.
"Ons klim uit die bed en begin ons daaglikse aktiwiteite sonder om te besef daar is mense wat dit nie self kan doen nie. Dit vat aan jou menswees, dit ontneem jou van alle selfrespek… maar dit hoef nie so te wees nie. Dit is waar ek besluit het om iets daadwerkliks te doen."
Riddles het mense self in die omgewing besoek om rolstoele aan hulle te oorhandig en hulle weer hoop te gee.
Roos Kohler van Albertinia het Donderdag 4 Oktober 'n rolstoel ontvang. Agter, van links is Grant Riddles, Charmaine Khuma, Liesbet Pepler en Julande Gemürr.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'