Update
RIVERSDAL NUUS - Die skoolhoof van die Hoër Landbouskool Oakdale op Riversdal, mnr André Latsky is geen onbekende nie en omdat hy aan die einde van vanjaar aftree, was besluit om sy laaste verjaarsdag by dié skool onvergeetlik te maak.
Mnr Latsky het Woensdag, 20 Oktober verjaar en hy het saamgestem dat dié dag saam met die Bulle onvergeetlik en baie spesiaal was.
Tydens die geleentheid is hy vroeg by die skoolhoofwoning deur die skool se eie perdekar, wat uit die vyftigerjare dateer, opgelaai. 'n Erewag van blou baadjies in die Akkerlaning het hom begroet, waarna hy voor 'n stampvol paviljoen van trotse Oakdalers afgelaai is.
Gelukwensing deur 2021 se hoofseun, Paul de Villiers en Oakdale's Call wat leerders uit volle bors sing, was deel van die verrigtinge.
Die hoogtepunt was egter toe sy geskenk namens die skool aan hom oorhandig is: 'n Portret van mnr Latsky, geskilder deur Tristen Hunter Strydom, 'n graad 9-leerder in die skool. Voorwaar 'n versinnebeelding van die ongelooflike respek, verering en waardering wat elke Oakdaler wat die afgelope 25 jaar onder sy hoofskap skoolgegaan het, koester.
Menige Bul-ouer sal saamstem dat mnr André Latsky voorwaar gemis gaan word en dat sy plaasvervanger groot skoene het om vol te staan.
Mnr Philippus Kleinhans, 'n oud-skolier van Oakdale saam met mnr André Latksy op die Oakdale-perdekar.
VORIGE ARTIKEL: Hoof se laaste verjaarsdag saam Bulle
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'