Nagenoeg 400 roubeklaers het onderskeidelik beide begrafnisse in die St. Barnabas Anglikaanse Kerk van mee. Henriëtte "Hettie" Roberts en Marie "Malie" du Toit bygewoon.
Familie en vriende het van heinde en ver gekom om hul laasste eer aan die twee gebroke families te betoon. Beide predikers, vader Eben Pretorius en Pauline "juffrou Pollie" Esau het hul medelye teenoor die bedroefde families uitgespreek, maar beide die families asook die aanwesiges veral die plaaslike inwoners gemaan, dat dié twee tragiese sterftes as waarskuwings vir 'n ommeswaai in die breë gemeenskap se leefstyl moet dien.
Tydens Roberts se huldeblyk het me. June Davids, Hessequa ABET geletterdheidsentrumbestuurder telkemaal verwys na die oorledene se besluit aan die begin van die jaar om haar omstandighede te verbeter om 'n beter toekoms vir haar en haar seun te skep. "Dit was haar egter nie beskore nie".
Verder het Davids met lof gepraat van Roberts wat daarop uit was om haar deel hoe klein ook al, by te dra by die werksaamhede van die sentrum. Volgens Davids was Roberts by uitstek 'n baie voorbeeldige en hardwerkende leerder wat haar alles gegee het. "Ons (die sentrum), sal haar baie mis, omdat sy so 'n staatmaker was op wie ons ten alle tye kon staatmaak", het Davids benadruk.
Roberts was ook 'n ywerige sportvrou en het nog onlangs vir die dorp se vrouerugbyspan as stut gespeel. Haar spanmaats het 'n erewag buite die kerk gehou. Bella Liebenberg, haar boesemvriendin uit hul kinderjare, het ook namens die vroueklub 'n huldeblyk gebring.
Du Toit se boesemvriendin, sers. Karen Pretorius, met wie sy nog saam was tot enkele minute voor haar dood, was duidelik erg getref deur Malie se skielike en tragiese dood. Tydens die huldeblyk was daar vele kere verwys na Du Toit se groot liefde vir kitaar speel en haar menige kwinkslae wat sy so spontaan haar "gehoor" kon laat skaterlag het.
Intussen het 'n jeugdige, Michael Skietekat, Dinsdag, 24 April in verband met Du Toit se dood op 'n aanklag van moord in die hof verskyn.
Die saak is tot Dinsdag, 8 Mei 2012 vir verdere ondersoek uitgestel. Rodney Roberts, die pa van Roberts se negejarige seun en haar saamleefmaat, het Maandag, 23 April op aanklag van moord in die hof verskyn. Die saak is tot 15 Mei uitgestel. Beide bly in aanhouding.

Bella Liebenberg en June Davids het onderskeidelik vir die vrouerugbyklub en ABET hulde aan Roberts gebring.
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS