ALBERTINIA NUUS - Agt skape van 'n kleinboer op Albertinia is Maandagnag, 24 Augustus deur honde doodgebyt.
Twee ander is ernstig beseer. Volgens Ebrahim Brenner, wat vir meer as 11 jaar op Albertinia woonagtig is, was hy baie moeg en het hy nie die geraas van die honde en skape gehoor nie. Hy het eers die volgende oggend gesien dat die skape leweloos lê, maar by nadere ondersoek het twee nog gelewe, hoewel baie beseer.
"Ek het 'n ruk gelede die skape gekoop en is baie ongelukkig, want dit is groot skade," het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat sy hekke ten alle tye toe is en dat dat die honde na alle waarskynlikheid oor die draad gespring het. "Ek wil nie kwaad stook nie, maar doen 'n beroep op honde eienaars om na hulle honde te kyk sodat hulle nie rondloop nie."
Albertinia-polisie het Hessequa-munisipaliteit van die honde aanval op die skape in kennis gestel, wat aan die skutmeester deurgegee is.
"Die dooie diere was van die perseel verwyder," het Didi Budricks, munisipale kommunikasiebeampte aan Suid-Kaap Forum gesê. "Een hond wat deur fotobewyse uitgewys was, is deur die munisipaliteit geskut."
Rondloperhonde wat vullisdromme omgooi is glo ook 'n groot frustrasie vir inwoners. Budricks het bygevoeg dat honde eienaars gemaan word om hul diere op hul persele te hou, aangesien die munisipaliteit daartoe gemagtig is om boetes uit te reik, sowel as om rondloper diere te skut en addisionele fooie daarvoor te verhaal.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'