ALBERTINIA NUUS - "Hier's my Krismisvis!"Dit was die laaste woorde van die 68-jarige Jakobus (Koos) Pietersen geuiter het voor hy Vrydag 6 Desember omstreeks 08:00 in die see geval en verdrink het.
Die lykskouing het getoon die oorsaak van dood is sogenaamde 'droë verdrinking'.
"Volgens konst. Francois Fielies, wat die uitslag vir my gebring het, is Koos meer van die skok van die ysige water as verdrinking dood," het Spasina (69), sy vrou van 42 jaar Maandag gesê.
Pietersen en sy jare lange vriend Henry Jansen is kort na 04:00 dié oggend na die Gourikwa-natuurreservaat. "Dit was hul gunsteling hengelplek wanneer hulle groot visse wou vang," het Kerneels Baartman, hul skoonseun gesê. Hy en die egpaar se dogter Mertle en hul kinders het Vrydag van Wellington af deurgery om Spasina te ondersteun.
"Volgens oom Henry het skoonpa die vis so teen agtuur gevang. Hy het nog gesê: 'Ek dink ek het my Krismisvis gevang!' Toe hy probeer om die groot mosselkraker oor die swartmossels op die rotse te kry, moes hy hard beur. Die lyn het gebreek en hy het sy balans verloor en in 'n sloep beland. Oom Henry het ingespring om hom uit te haal voor 'n groot golf hom vir altyd die see invat."
Jansen het die liggaam op die rotse neergesit en na die motor gehardloop om met sy selfoon hulp te ontbied. Daar was nie sein nie, maar op daardie oomblik het Gourikwa-personeel verbygekom en die polisie van die kantoor af ontbied.
Pietersen en sy vrou het op Albertinia grootgeword. Hy was jare lank in die weermag en daarna by korrektiewe dienste op Wellington. Na hy 'n rugbesering opgedoen het, is hy medies ongeskik verklaar en die egpaar het teruggekeer na hul geboortedorp.
"Hengel was sy groot passie en hy en Henry het gereeld Gourikwa toe gegaan," het Spasina vertel.
"Ek sal pappa altyd onthou vir sy omgee en hulpvaardigheid, nie net vir ons as gesin nie, maar vir almal," het Mertle vertel. "Hy het 'n goeie voorbeeld gestel - hy was altyd netjies en betyds en het nooit 'n siekdag gevat nie. My ma en ons kinders was sy trots. Dis so jammer dat hy weggevat is, maar ons tyd is nie God se tyd nie. Ons het baie mooi herinneringe."
Hy word ook oorleef deur sy seuns Edmund en Bradley en vyf kleinkinders.
Sy begrafnis begin Saterdag 09:00 by die huis in Missionstraat 5 en om 10:00 by die burgersentrum.
Agter, van links: Bradley Pieterse, Mertle, Kerneels en Amy Baartman. Voor: Brittney Josephs, Spasina Jansen en Kelly Baartman in die huis in Missionstraat, Albertinia. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'