RIVERSDAL NUUS - Japie Dekenah was 'n legende op Riversdal en bekend as 'n 'lopende ensiklopedie'.
Hy was van beroep 'n wamaker, maar was ook 'n fotograaf, 'n versamelaar van alles wat geskiedkundige waarde gehad het, asook 'n botanis van formaat (waarvan heelwat in die Julius Gordon African Sentrum / Versfeld Huis te sien is).
Sy familie het in 'n huis met die naam St. Elmo's, of die Klaphuis, soos baie dit genoem het, gewoon. Hoekom 'Klaphuis'? Die storie gaan so: 'n Winkeleienaar, glo 'n DJ de Bruyn, het baie jare gelede 'n onderonsie met die ou mnr. Dekenah, Japie se oupa, gehad, en hom teen die oor geklap. Hy maak toe 'n saak teen De Bruyn en beweer hy het daardeur sy gehoor verloor en eis £500 skadevergoeding. Dit was baie geld in daai jare!
Mnr. Dekenah wen die saak en bou 'n imposante dubbelverdieping huis. Daarom het die mense van die dorp dit altyd die 'Klaphuis' genoem. Soos in die meegaande foto gesien kan word, is hierdie huis aan die suidekant van St. Matthews Anglikaanse Kerk opgerig.
Later het die gesin Kaap toe verhuis. Op 26 Maart 1927 is St. Elmo's op 'n veiling aan Sam Myneveldt verkoop vir 'n losieshuis, wat toe as St. Elmo's-losieshuis bekendgestaan het. Vele reisigers het op Riversdal oorgebly net sodat hulle in die pragtige gebou kon slaap. Dit is later deur mev. CF Cronjé gekoop, wat dit weer op 'n vendusie op 10 April 1948 verkoop het.
Ongelukkig is hierdie pragtige ou huis in 1985 gesloop! Was dit regtig nodig? Of neem ons nie, soos in oorsese lande, die bewaring van oudhede en ou geboue ernstig op nie? - Inligting: Louise du Plessis, kurator
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'