HESSEQUA NUUS - Dié streek is een van 12 munisipaliteite in die Wes-Kaap wat 'n skoon oudit vir die 2017/2018-boekjaar gekry het.
Dit is ook een van altesaam 18 uit die 257 munisipaliteite landwyd en die enigste in die Suid-Kaap. Wat die prestasie nog meer betekenisvol maak is dat dit vir die vyfde agtereenvolgende jaar gebeur.
"Ons is baie trots op die prestasie, want dit is die hoogste toekenning wat 'n munisipaliteit van die ouditeur-generaal (OG) kan ontvang," sê Johan Jacobs, die munisipale bestuurder.
"'n Skoon oudit beteken onder meer dat die finansiële state 'n redelike weerspieëling van die finansiële stand en prestasie van die munisipaliteit is en dat die prestasieverslaggewing in orde was."
Volgens hom bly die munisipaliteit nie net op koers nie, maar toon ook goeie leierskap en bestuur. "Dié toekenning toon die verbintenis van die personeel en die Raad om dienste van hoë gehalte te lewer, asook hul toewyding tot goeie bestuur en nakoming van wetgewing.
Dit bewys dat die munisipaliteit daarin geslaag het om beginsels en prosedures te inkorporeer ten einde dissipline en stabiliteit in die munisipale omgewing te handhaaf."
Die OG se fokus is besig om van slegs die oudit van finansiële state tot die vasstelling en bewyslewering of kwaliteit dienslewering plaasvind, te verskuif.
"Die manier hoe die ouditeur-generaal ondersoek instel, raak elke jaar net meer intensief en die onus rus op munisipaliteite om te bewys dat die begroting op die regte plekke bestee word en die belastingbetaler waarde vir hul geld ontvang."
Hy benadruk dat ongekwalifiseerde oudits met bevindings, nie aan gekwalifiseerde oudits gelykstaande is nie. "Hierdie is werklik 'n persepsie wat by die publiek bestaan en dit lei tot geweldige negatiewe ingesteldheid teenoor goed funksionerende munisipaliteite, meestal in die Wes-Kaap.
Die OG behoort te wys op ongekwalifiseerde oudits versus gekwalifiseerde oudits. Die derde kategorie behoort die laaste drie in te sluit as ernstige probleem."
Daar is vyf moontlike oudituitslae
- Ongekwalifiseerd met GEEN bevindings, of 'n sogenaamde 'skoon' - waarvan Hessequa die enigste in die Suid-Kaap is;
- Ongekwalifiseerd MET bevindings - Bitou, Garden Route-distriksmunisipaliteit - Knysna, Mosselbaai en Prins Albert;
- Gekwalifiseerd met bevindings - Beaufort-Wes, Oudtshoorn en George;
- Ongunstige bevinding - geen in die Wes-Kaap;
- Afgewysde/verwerpte bevinding - geen in die Wes-Kaap;
Laingsburg and Kannaland se dokumentasie is nie ontvang nie.
"Ons is tevrede dat 25 uit die 30 munisipaliteite in die provinsie ongekwalifiseerde oudits ontvang het, waarvan 12 uit die 25 skoon oudits gekry
het," het Anton Bredell, minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning gesê. "Ons kom 'n lang pad sedert 2009 toe daar nie 'n enkele skoon oudit in die provinsie was nie." Bredell se kantoor het die inligting oor die dorpe verskaf.
The auditor-general has released the latest municipal audit results, showing an overall decline for the 2017-18 financial year. Not so for Hessequa municipality, who received a clean audit for the fifth time in a row.
It was one of 12 municipalities in the Western Cape to do so, but the only one in the Southern Cape, Klein Karoo and Central Karoo.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'