Update
HESSEQUA NUUS - "Jy het my berge molshope gemaak. 'n Vriend duisend. 'n Legende en 'n engel van God. Die man met die sagte oë en 'n stoute smile..."
Dis enkele van die huldeblyke wat na Suid-Kaap Forum ingestroom het ná die skoknuus Sondagmiddag, 1 Oktober, dat Johannes Jakobus Gildenhuys - alombekend as Mann onder sy wye vriendekring en familie - in 'n botsing tussen sy dubbelkajuitbakkie en 'n vragmotor op die N2 naby Danabaai oorlede is.
Die nuus het die gemeenskappe van Albertinia, Heidelberg en Riversdal, waar Mann vroeër besighede bedryf óf gewoon het, tot in hul diepste wese geskud. Trouens, die skokgolwe het die hele Hessequa deurboor.
Die 54-jarige Mann was ten tyde van sy dood in Albertinia woonagtig. Van sy naaste vriende was Dinsdag nog steeds in skok en het dit traumaties gevind om gemaklik oor hom te gesels. Sy dogter, Mieke, wat by hom gebly het, het verkies om niks oor haar pa te sê nie.
Dat hy 'n ongelooflike impak op mense gehad het, kom duidelik uit die boodskappe van medelye en is 'n tasbare bewys van die blywende impak wat "dié man(n) met die ruim hart" agterlaat.
Met sy lewe en sy sterwe het Mann vir hom 'n permanente plek in die harte van baie uitgekerf. Daardie mooi en tere herinneringe sal niks kan uitwis nie.
Vir die agterblywendes is sy dood 'n tragedie wat moeilik in woorde omgesit kan word. Dit laat hulle met meer vrae as antwoorde.
In hierdie tyd van skok en ontsteltenis is dit sekerlik nie die beste tyd vir 'n behoorlik bepaling van wat sy familie en vriende alles verloor het nie. Wat wel seker is, is dat Mann in 'n ry van die "perfekte sielsvriend en kameraad" onder die heel voorstes plek moet kry.
Sy vervulde lewe sal des te meer 'n inspirasie bly vir diegene wat agterbly.
Hessequa groet 'n Man(n) wat van berge molshope kon maak.
Die begrafnis is Vrydag 7 Oktober om 12:00 vanuit die NG Kerk in Heidelberg.
Mann Gildenhuys en 'n goeie vriendin Inge Poggenpoel langs 'n braai by die see.
Vorige artikel: 53-jarige man sterf in ongeluk op N2
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'