TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Bemagtiging van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld in die Hessequa-streek, Tuinroete, Weskus en Sentraal-Karoo is besig om te realiseer.
Die Wes-Kaapse minister van maatskap-like ontwikkeling, Sharna Fernadez het Maandagaand, 30 November bekend gemaak dat ses huise in die genoemde dele reeds aan haar departement toegeken is om met maatskaplike werkers hul prosesse van stapel te stuur om met die bemagtiging te begin.
Kommunikasiebeampte vir Fernandez, Joshua Covenant Chigome het Dinsdag, 1 Desember gesê die veilige hawens sal 'n veiligheidsnetwerk vir kwesbare vroue en kinders wees, veral in landelike gebiede.
Fernadez het die Hessequa-streek Maandagaand geïdentifiseer as een van die dorpe waar so 'n veilige hawe reeds besig is om afgerond te word.
Personeel by die veilige hawens sal slagoffers van geslagsgebaseerde geweld bemagtig in sosio-ekonomiese ontwikkeling, gesondheidsorg, regsdienste en vaardigheidsontwikkeling.
Fernandez het gesê noudat die memorandum van verstandhouding deur al die nodige belanghebbendes onderteken is, sal alle vennote verseker dat al die onderskeie opknappings plaasvind, sodat haar departement gereed sal wees om kliënte in die nuwe jaar te begin neem.
"As eienaars van die eiendomme en in ooreenstemming met artikel 38 van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, is die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur verantwoordelik vir die instandhouding en herstelwerk van die geboue, terwyl die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling verantwoordelikheid sal neem vir die eiendomme se bedryfskoste," het Chigome gesê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'