SUID-KAAP NUUS - Met die aanbreek van die langverwagte lente is dit nou die ideale tyd vir elke huishouding se jaarlikse lente-skoonmaak.
Sommige mense verwelkom dit en ander sien op daarna. Solidariteit Helpende Hand het tans 28 skenkingswinkels, genaamd Ons Winkels, landwyd met ses winkels in die Suid-Kaap. Met 'n heenkome vir alles wat in die pad staan, maak dié winkels dit vir inwoners maklik om aan die werk te spring en weer orde in hul huiskaste te skep.
"Die doel van die Ons Winkels-konsep is om skenkings vanaf die gemeenskap in te neem van alles wat in hulle pad staan. Behoeftige mense wat kwalifiseer word met dié skenkings gehelp en die res van die voorraad word verkoop," het Alisha de Lange, Helpende Hand se streekorganiseerder van die Wes- en Suid-Kaap, gesê.
"Die geld wat met die verkope ontvang word, word gebruik vir gemeenskapsprojekte plaaslik asook studiefondse vir behoeftige kinders."
Enigiets oorbodig, van klere, kombuisware, speelgoed, elektriese toerusting, meubels en linne, kan na die Ons Winkels geneem word.
"Een van ons groot behoeftes is linne en beddegoed. Ons wil spesifiek 'n versoek rig aan gastehuise en hotelle as hulle, hul beddegoed en gordyne vervang, om dit vir Helpende Hand te skenk," het De Lange bygevoeg.
De Lange het gesê Helpende Hand het 'n deeglike proses in plek waar gesinne wat aanklop vir hulp eers behoorlik geassesseer word waarop Helpende Hand dan besluit hoe en of die gesin gehelp kan word. "As ons voel die gesin of individue kan en wil uit sy omstandighede kom, help ons graag. Die res van die skenkings verkoop ons sodat ons bv. kleuters in die skool kan sit, behoeftige studente se studies te betaal of bejaardes te bederf. Dus kan jou tweedehandse items hoop bring vir ander.
Vir meer inligting oor die Riversdal-winkel in Kerkstraat, kontak Barbara by 071 583 8099.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'