STILBAAI NUUS - Inperking is vir heelwat mense sinoniem met 'n verlies aan inkomste.
Badisa Stilbaai, in samewerking met plaaslike gemeentes, is hard besig om nie-bederfbare produkte in te samel vir kospakkies wat aan behoeftige persone voorsien kan word.
Volgens Cornelia Giliomee kon 208 pakkies op Dinsdag 7 April op Melkhoutfontein en 40 op Stilbaai uitgedeel word. Dit het egter die beskikbare voorraad uitgeput en inwoners word dringend versoek om verdere bydraes te skenk.
Enigiemand wat nie-bederfbare produkte wil bydra, kan dit in die aangeduide waentjies in OK Foods en Spar laat. Voorbeelde van wat benodig word, is lensies, mieliemeel, sousbone, hawermout, sopmengsel, ekstrakblokkies, gis, kookolie, soja, pasta, samp en boontjies, sout, koekmeel, blikkies vis en soppoeier.
Finansiële bydraes is ook baie welkom, want produkte moet bygekoop word om pakkies volledig te maak. Betalings kan direk in Badisa se bankrekening gemaak word, of by kassiere van OK Foods inbetaal word. Noem aan die kassier dis 'n donasie vir die Badisa-kospakkiesprojek en dit sal in die regte hande besorg word.
Giliomee bedank almal wat reeds bygedra het: "Ons is bevoorreg om in 'n gemeenskap met sulke oop harte en hande te woon." Sy kan vir navrae by 082 896 9090 bereik word. Ds. Francois Taljaard van die plaaslike NG gemeente is ook vir navrae by 061 460 6404 beskikbaar, of per e-pos by stilbaai.ng.gemeente@gmail.com
Bankrekeningbesonderhede
- Rekening naam: Badisa Stilbaai
- Nedbank tjekrekening (Garden Route Branch)
- Rekeningnommer: 1626 533 180
- Verwysing: Noodvoorraad
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'