RIVERSDAL NUUS - "Gee julle vir hulle iets om te eet," is die leuse van AGS Aloeridge se welsyns-departement.
Dié departement bestuur 'n sopkombuis wat elke Donderdagmiddag sop aan behoeftiges uitdeel.
Die departement is 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat hom daarvoor beywer om na behoeftiges uit te reik deur sop en ook tweedehandse klere aan hulle te voorsien.
Hulle het drie jaar gelede met die sopkombuis begin en aanvanklik sop aan 25 kinders voorsien. Dié getalle het intussen gegroei tot sowat 140 kinders, asook mans en vroue afkomstig uit verskeie woonbuurte in die AGS Aloeridge se bedieningsgebied.
Die sopkombuis is afhanklik van vrywillige bydraes en skenkings uit die gemeenskap en word ook deur vrywilligers bestuur. Billy Saayman, wat saam met sy broer, Louw Saayman, betrokke is om die sopkombuis aan die gang te hou, het aan Suid-Kaap Forum vertel dat hulle sonder skenkings en die hulp van vrywilligers, beslis nie in staat sal wees om sop en klere aan behoeftiges te skenk nie.
"As ons ons leuse wil uitleef, is ons oorgelaat in die hande van barmhartiges en omgeemense. Mense wat wel 'n verskil in iemand in nood se lewe wil en kan maak. Daarsonder kan ons nie die sopkombuis bedryf nie."
Enigeen in Riversdal of die Hessequa-streek wat van tweedehandse klere, ou komberse, uitgediende huisraad en opgaargoed ontslae wil raak, kan vir Billy bel by 083 490 3828 of Louw by 084 705 1813.
"Kosskenkings, veral sopbestanddele, is onontbeerlik as ons met die sopkombuis wil voortgaan."
Inwoners wat enige skenkings wil maak, kan dit ook by die kantore van Suid-Kaap Forum in Heidelbergweg 29 kom aflaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’