STILBAAI NUUS - Merkwaardig, 'n absolute diva. Dít is die indrukke wat mens kry wanneer jy Helena Lubbe vir die eerste keer ontmoet. Sy is 'n vrou van vele fasette.
Helena het op Vrydag, 16 April haar 95ste geboortedag herdenk. Dié groot mylpaal is saam met haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders by 'n plekkie buite Stilbaai gevier.
Oor die bykans 10 dekades van haar lewe is daar vele hoogte- en laagtepunte. As onderwyser op Victoria-Wes het sy ook spraakklasse aangebied, konserte afgerig en self toneelgespeel. Sy was 20 toe sy in 1946 met Lukas Petrus Lubbe getroud is. Hy was 10 jaar ouer as sy.
"Ek wou nie op so 'n jong ouderdom trou nie, maar my man wou nie kopgee nie en gesê daar is geen rede om te wag nie," vertel sy. "Ek het altyd gesê ek gaan nooit met 'n man trou wat op 'n plek bly waar 'n peperboom groei nie, want droë plase het peperbome gehad. En toe sit ek op 'n Karooplaas op Carnarvon."
Twee jaar later is haar eerste seun, Johan gebore en nog vyf jaar later haar tweede, Stegmann, wat haar nooiensvan is.
Dit het haar omtrent sewe jaar gevat om aan te pas, maar toe begin die Karoo op haar groei. Sy het 'n lieflike tuin met behulp van haar man aangelê, wat vragte grond moes aanry om die klipperige grond te bedek tot dit diep genoeg was om struike aan te plant. En toe plant sy self 'n perperboom.
Mense en vriende wat op die plaas aangedoen en gekuier het, het dit 'n oase genoem. Helena en haar man het later jare, in 1987 besluit om na Stilbaai te verhuis, veral omdat daar nie dokters en nooddienste in die nabye omgewing was nie.
Lukas is 26 jaar gelede oorlede en sy is al die afgelope 36 jaar 'n Stilbaaier.
Haar seuns en hul gesinne boer steeds in die Karoo.
Helena Lubbe (2de ry van agter, 4de van links) saam met haar familie wat haar 95ste verjaarsdag saam herdenk het.
Durf en daad
Buiten hoë bloeddruk en rugmoeilikheid het Helena nie juis ander skete en kwale wat met ouderdom gepaardgaan nie. Sy het wel al baie geval en bene gebreek, so ook haar heup toe sy eendag in die motorhuis neergeslaan het nadat sy duiselig geword het.
"Ons wou die volgende dag vir die kinders in die Karoo gaan kuier en ek was besig om 'n paar goedjies vir hulle in te pak. Ek was baie besig en het nie my bloeddrukpille gedrink nie, 'n groot fout." Sy was te laat om iets te gryp om haar val te breek en het soos 'n os neergeslaan.
'n Goeie vriend, Wynand en haar buurvrou, Lena, het eers 'n uur later op haar afgekom. Sy is hospitaal toe gehaas, waar sy geopereer moes word.
'n Ander keer het sy van die trappe afgeval toe sy haar balans verloor het, melktert in die een hand en 'n groot papaja in die ander. En op 'n keer in die tuin, ook toe sy duiselig geword het.
Op 80-jarige ouderdom het Helena saam met 'n groep reg om die wêreld getoer. En toe sy 89 was, met 'n "foefieslide" by Stormsrivier afgegly.
"Ek wou eers nie, maar toe doen Wynand dit en ek dog so by myself, as hy dit kan doen, kan ek ook. Maar dinge het effens skeefgeloop, die remme wat ek moes trek om stadiger te gaan wou nie werk nie en ek moes spring. Gelukkig veilig geland, maar my bene het seergekry en kon ek amper nie loop nie. Volgens die dokter was dit gekraak."
Helena was vir baie jare voorsitter van die Vroue Landbouvereniging (VLV) op Carnarvon.
Sy was 'n lid vir 40 jaar, het liefdadigheids-werk vir die kerk gedoen, was ouderling vir 14 jaar op Stilbaai en was by allerlei gemeenskapsprojekte betrokke.
Haar leuse? "Leef jou lewe en vergeet jou ouderdom."
Sy het nie 'n bucket list nie, maar wil nog baie dinge doen. "Wat my hand vind om te doen," sluit sy af.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'