HEIDELBERG NUUS - Samanthea Vryman, administratiewe lid van Heidelberg-polisie het Sondagoggend, 9 Augustus na ‘n kort siekbed haar stryd teen longontsteking verloor.
Die 35-jarige ma van twee jong seuns, Montell (11) en Gared-Tyle (8) is in die Life Bay View privaat hospitaal op Mosselbaai oorlede.
Volgens haar eggenoot, Vuyo, wat ook in die plaaslike polisiediens is, was sy vir twee weke in die hospitaal opgeneem na hulle van vakansie in Welkom gekom het. Hy noem dat sy ‘n asmalyer was en dat sy ‘n paar maande gelede ‘n operasie ondergaan het.
Vryman is oorspronklik van Welkom, maar het die afgelope 14 jaar reeds in Heidelberg gebly. Sy was vir nege jaar by die plaaslike dienssentrum as klerk werksaam.
Simpatiebetuigings op sosiale media het ingestroom na die nuus van haar dood bekend geword het en sy is as saggeaard en vriendelik beskryf. Hoewel sy maklik gelag het, was sy ook iemand wat standpunt ferm kon inneem.
Buiten haar eggenoot en seuns laat sy haar ouers, Andries en Sophia Rossouw, asook ‘n suster en twee broers agter.
Die begrafnis vind Saterdag, 15 Augustus in haar tuisdorp plaas. Meer inligting hieroor is in die stadium nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'