HEIDELBERG NUUS - Die dorp het op Saterdag 2 Maart stil-stil van een van sy geliefde inwoners afskeid geneem toe Flooris (oom Lol) Noudt vanuit sy huis in Olympiclaan, Heidelberg begrawe is.
Oom Lol was in sy jonger dae bekend vir sy kwinkslae en het mense laat skaterlag met sy sêgoed oor allerlei gebeure van die dag.
Hy kom uit 'n familie van bouers en was self 'n messelaar en pleisterman. Hy kom ook uit 'n geslag wat destyds op 'n Saterdag uit hulle eie uit met troffel, lyn en waterpas by 'n gebou opgedaag het om mense te help om hulle huis klaar te bou.
Die inwoners het met groot deernis van oom Lol afskeid geneem. Die rugbygemeenskap sal hom ook baie mis. Sy vrou, ant Das, het hom reeds lank gelede ontval. Sy kinders en die Du Toit-gesin het hom al die jare ondersteun en opgepas.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'