Selfs voor dit van die aarde af sigbaar was, het die sonvlek intensiewe fakkels uitgewerp en daar is gevrees dat dit kan ontwikkel tot 'n aggressiewe monster wat met 'n koronamassa-uitbarsting ernstige skade aan veral satelliete en kragnetwerke kan veroorsaak.
Verskeie fakkels is waargeneem, waarvan daar teen Saterdag, 25 Oktober drie agtereenvolgende X-klas fakkels voorgekom het. X-klasfakkels produseer die mees intensiewe uitstraling van golwe regoor die elektromagnetiese spektrum, van radiogolwe tot X-straal en gammastrale.
Hierdie fakkels het ernstige onderbrekings in langafstandradiokommunikasie veroorsaak. AR 2192 het konstant gegroei en teen die tyd dat hy sy maksimumgrootte bereik het, was die deursnee groter as dié van Jupiter en omtrent 16 keer die deursnee van die aarde. Dit is die grootste sonvlek sedert 18 November 1990 toe AR 6368 rekordgrootte bereik het.
Koronamassa-uitbarstings werp groot hoeveelhede gelaaide partikels teen snelhede van honderde kilometer per sekonde die ruimte in. Indien dit gebeur wanneer die sonvlek in die rigting van die aarde wys, bestaan die gevaar dat elektriese strome in geleiers op die aarde se oppervlak en in satellietstroombane geïnduseer kan word en ernstige skade kan veroorsaak.
Dit is dieselfde bewegende magneetvelde wat deur die aarde se magneetveld na die poolstreke herlei word en wat daar die Auroras of Noorderligte en Suiderligte veroorsaak. Gelukkig het AR 2192 slegs die intense fakkels geproduseer en geen noemenswaardige aardgerigte koronamassa-uitbarstings nie.
* Moet nooit sonder die regte beskerming na die son kyk nie. Dit kan permanente sigskade veroorsaak.

ARTIKEL EN FOTO: WIM FILMALTER
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'