SUID-KAAP NUUS - Die Eden-jaggeweerskietvereniging bied 'n groot skietdag op 29 September by Louvain gasteplaas aan.
Spanne van vier lede elk kan inskryf vir die dag waartydens daar vanaf ses verskillende bane op 30 staalplate geskiet gaan word.
Die afstande sal onbekend wees en wissel van 150 m tot 400 m. Die bane word op so 'n wyse uitgelê dat tipiese jagsituasies gesimuleer word. Skuts kan dus verwag om oor rotse, boomstompe, driepootstokke en kontoerwalle aan te lê.
Die spanlede kan saamwerk met afstandskatting en onderling bepaal watter skut die geskikste is vir elke posisie. Skuts neem in twee klasse deel; hardebaard vir die meer ervare kompetisieskuts en melkbaard vir die skuts wat net sosiaal deelneem.
Volgens die organiseerders is inskrywings reeds van so vêr as Gauteng, Natal en die Vrystaat ontvang. Inskrywings sluit op 25 September.
Vir meer inligting kontak Jacques du Plooy by 082 940 0789 of Christo Delport by 079 498 6227 of besoek www.so.co.za/pages/gong.
Die dag is moontlik danksy 'n borgskap van bykans R300 000 deur Safari Outdoor.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'