Om onder 'n 300 jaar oue Akkerboom te vertoef, is 'n hoendervel-ervaring. Die plantname sing soos onbekende liedjies -Blouberglelie en Duinebruidsbos.
Boesmanrys, Worsplantjie en Visbekvygie bring jou gesellig saam om 'n tafel. Vele rate vir vele kwale pronk in die tuin - Maagpynbossie, Kopseerblom. Om Devil's knuckles loop jy liewer 'n wye draai! Die pragtige Witstinkhout word gesalueer vir die adelike wat hy is.
Die waterstroom uit die berg wat hierdie plante in al hul glorie bedien, was nog nooit droog nie. Die Green Fingers tuinbouklub het hierdie weelde beleef op 23 Oktober toe hulle weer met 'Pottie se bus' die langpad aangevat het. Liggaam en siel, tevrede gevoed deur die kosbare dag, het die grappies en gesels nie opgedroog voor hulle nie eers in Riversdal geland het nie.

Die Greenfingers Tuinbouklub van Riversdal tydens hul onlangse besoek aan die Kirstenbosch Botaniese tuine in Kaapstad.