Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Kontrakteurspanne wat opgelei is in die verwydering van uitheemse indringerplante het onlangs hul sertifikate ontvang.
'n Spesiale seremonie in die Thusong-sentrum op Vrydag 5 Julie het die kroon gespan op die opleiding van 48 werkers wat deel vorm van die Goukou Resilient River Project.
Tydens die geleentheid het die vier spanne, wat in Januarie en Februarie vanjaar die opleiding deurloop het, sertifikate vir die suksesvolle voltooiing daarvan ontvang.
Die spanne, wat mans en vrou insluit, is in diens van vier onafhanklike kontrakteurs van Riversdal en Heidelberg.
Hul opleiding is toegespits op die gebruik van kragsae, bossiekappers en gifspuite, asook noodhulp 1 en 2 en 'n kursus vir 'n veiligheidsverteenwoordiger, terwyl al die spanne die veiligheidsbewustheidkursus deurloop het.
"Die doel van die projek is om 700ha uitheemse plantegroei in die bergagtige opvanggebied bokant die Goukoubrug op die N2 en 350 ha laer af langs die rivier uit te roei," sê Rita Botha, projekbestuurder.
Die skoonmaakaksie fokus tans op privaat eiendom waar nog min of geen indringerplante verwyder is. Dit sluit ook die hervestiging van palmietvleilande in met die doel om die hele riviersisteem uiteindelik van die opvanggebied tot by die riviermonding so ver as moontlik gesond sal wees.
"Die droogte het almal laat wakker skrik en nou moet ons fokus op watersekerheid," sê Botha.
"Wattels gebruik nie noodwendig meer water as inheemse bome nie, maar as gevolg van die groot aantal wat op oewers en ander opvangsgebiede groei, is die watergebruik hoër."
Volgens haar word die kwaliteit en hoeveelheid water en die verskeidenheid inheemse plante tans aangeteken daar aan die einde van die projek in 2021 gemeet kan word hoe die plantegroei en volume van die water verander het. Die projek is een van verskeie wat deur die Gourits-groepsbiosfeerreservaat (GCBR) bestuur word. Die GCBR se doelwit is om 'n katalis vir verandering te wees ten opsigte van een van die grootste probleme wat volhoubare ontwikkeling in die gesig staar, naamlik die verwydering tussen mens en natuur. Dit word gedoen met behulp van 'n verskeidenheid aksiegerigte inisiatiewe wat daarop toegespits is om hierdie pragtige omgewing te bewaar.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel hier: Goukouprojek: Kontrakteurspanne vat indringers vas
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'