HEIDELBERG NUUS - 'n Winkeleienaar van 'n kafee langs die N2 is Sondag 1 Julie omstreeks 22:10 beroof.
Volgens ao. Alroy Windvogel, mediawoordvoerder van Heidelberg-polisie, het daar blykbaar tussen ses en agt gewapende mans die winkel binnegegaan. "Hulle het gedreig om die 34-jarige man agter die toonbank te skiet. Hy is beveel om op die grond te lê en die kluis se sleutel te oorhandig. Hy het geweier, waarna hy in die skouer met 'n skerp voorwerp gesteek is."
Nadat die kluis oopgesluit is, het hulle die man se voete en hande vasgebind en met duisende rande in kontant, asook sigarette gevlug. Die eienaar het daarin geslaag om homself los te ruk en die plaaslike polisie te kontak.
Die mans het vermoedelik met 'n swart BMW met 'n CFM-nommerplaat gevlug.
Enigiemand wat inligting het kan ao. Bartho Joubert skakel by 061 469 4344. Inligting sal vertroulik hanteer word en 'n beloning is beskikbaar by skuldigbevinding.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'