Dit was die woorde van vader Creg Jantjies, mede-leraar van die Anglikaanse Kerk in Riversdal tydens 'n interkerklike diens op Pinkster Sondag. 'n Behoefte het by van die plaaslike leraars ontstaan om vanjaar se Pinkster gesamentlik af te sluit en juis hierdie kerkdiens te gebruik om te bid vir al die sosiale en ekonomiese uitdagings in die gemeenskap. Tydens 'n rolspelersvergadering van alle sektore in die gemeenskappe, is kommer uitgespreek oor die vlakke en toename in misdaad en die aard daarvan, alkohol- en dwelmverslawing, armoede en werkloosheid en hoe hierdie uitdagings die jeug affekteer.
Leraars van onderskeidelik AGS Aloeridge, Anglikaanse en Lutherse kerk was daarmee eens dat die aanspreek van sosio-ekonomiese uitdagings nie alleen oorgelaat word aan die munisipale raad, skole, departement van gesondheid en welsyn, die polisie en nie-regeringsorganisasies nie. "Dit het tyd geword dat die kerk sy stem laat hoor en sigbaar word, net soos Jesus dit tydens Sy bediening op aarde gedoen het," het past John Gertse gesê.
Alle verwagtinge is oortref toe 'n groot aantal gemeenskapslede en verteenwoordigers van alle sektore en veral die jeug die diens bygewoon het. Daar was onder meer gebid vir en teen armoede en werkloosheid, MIV/Vigs, tienerswangerskappe, persone met gestremdheid, die misbruik van alkohol en dwelms en die eksamens. Die kollekte wat tydens die diens opgeneem was, is aan Palmietrivier se skoolhoof oorhandig.
Fokus op Jeugdag, 16 Junie
Verskeie rolspelers kom Maandag, 16 Junie bymekaar om Jeugdag in die burgersentrum te herdenk. Die klem sal val op hoe om die sosiale uitdagings wat die jeug raak, ten beste aan te spreek. Alle jeugdiges word uitgenooi om die dag mee te maak. Verskillende jeuggroepe sal optree, maar word veral uitgesien na die toneelspel deur die New Life dramagroep van Mosselbaai.
Stig van leraarsforum
Donderdag, 26 Junie om 19:00 word alle leraars van die verskillende denominasies genooi na die Lutherse kerksaal, waartydens die leraarsforum vir Riversdal gestig en die pad vorentoe bespreek sal word. Vir enige navrae kan geskakel word met vader Arthur Stevens, vader Creg Jantjies, pastore John Gertse en Jacques Grispe.

Leierskap van onderskeie gemeentes na afloop van die interkerklike diens.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'