STILBAAI NUUS - "Elke Stilbaai-inwoner is 'n aandeelhouer van die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum en die organisasie behoort aan die gemeenskap.
"Die langtermyn volhoubaarheid van Jagersbosch lê in die hande van die inwoners en sakelui van Stilbaai."
Dit is 'n uittreksel uit die Februarie-nuusbrief van die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum, 'n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat 'n onmisbare diens in die gemeenskap lewer.
Die organisasie is afhanklik van vrywilligers en daar word tans gefokus om die vrywilligerskorps weer op te bou en uit te brei.
'n Spesiale vergadering het op 15 Februarie by Die Waenhuis plaasgevind, waar die nuwe direksie aan die vrywilligers voorgestel en besluite geneem is oor hoe die verskillende geldinsamelingsprojekte bestuur en uitgevoer gaan word.
Jagersbosch bied 'n heerlike mark elke eerste Saterdag van elke maand by Die Waenhuis aan en is ook betrokke by verskeie projekte om hul finansies te versterk.
Hulle is afhanklik van donateurs vir finansiering en ingevolge Artikel 18A van die Wet op inkomstebelasting van 1962 kan skenkings van belasbare inkomste afgetrek word.
Dié voordeel is egter slegs van krag indien die skenkingsbedrag, tesame met ander skenkings nie 10% van die donateur se belasbare inkomste oorskry nie.
Die ledetal staan tans op 899, wat nie genoeg inkomste genereer nie en die direksie doen 'n beroep op diegene wat nie lede is nie, om aan te sluit. Daar is geen ouderdomsbeperking nie.
Die direksie mik daarna om die ledetal na 3 000 te vergroot.
Vir meer inligting oor die gemeenskapsorgsentrum, besoek hulle in hul geskiedkundige gebou en vind uit van die voordele om 'n lid te wees en die dienste wat hulle lewer.
Kontak hulle by 028 754 1934.
ARTIKEL & FOTO: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'