Huldeblyk aan Aubrey Kenneth Daries:
A.K. - soos wat hy by die publiek bekend was, is gebore op 6 Oktober 1947. Sy pa was 'n gekwalifiseerde ploegbaas by die S.A.S.H. Hy voltooi sy laerskool loopbaan by St Andrews Mission School en sy hoërskool loopbaan by Gerrit du Plessis sekondêr op Riversdal. By laasgenoemde skool word hy dan ook verkies tot die eerste hoofseun van die skool.
A.K. bekwaam hom as onderwyser by die Onderwyskollege Suid-Kaapland (O.K.S.K.) te Bridgton, Oudtshoorn. Sy eerste onderwyspos bekleë hy te Brakfontein E.K. Primêr, saam met wyle Wilfred Faroa.
Sy vader, Johannes Stephanus Daries, doen aansoek vir die pos as stasiemeester, hier kom die Spoorweë owerheid voor 'n groot uitdaging, hulle het nie besef dat die nuwe stasiemeester bruin is nie. J.S. Daries kry wel die pos, maar word verplaas na Krombekstasie in die Heidelberg-distrik.
As jong man is A.K. lid van die Pooh Boys, 'n groep jongmanne wat musiek maak vanaf Riversdal tot in Genadedal. In 1969 word die ruim familiewoning in Langstraat 79, asook die kafee, Silfretta, onteien deur die apartheidsregering. Die Langstraat-gebied word geherklassifiseer as blanke gebied. Die woning en kafee word dus deur die stootskrapers plat gestoot.
Die onteiening en dié behandeling wat sy pa ontvang het, het 'n beduidende inpak op sy lewe en politieke denke gehad.
In 1978 begin A.K. onderwys gee by Gerrit du Plessis sekondêr, waar hy die Sport-vakhoof was en dien ook op die bestuur van die S.W.D. Skole sport unie. Hy tree op 23 September 1989 in die huwelik met Rettie Taute en word een dogter, Beatrix, uit die huwelik gebore.
A.K. was voor die ontbanning van die ANC betrokke by die ANC en na die ontbanning aktief betrokke by die vestiging van tak strukture. Hy verwerf ook dan die titel, veteraan kameraad, en was hy bevriend met onder andere Gwede Mantashe, Ebrahim Rasool en Trevor Manuel. By die Hessequa munisipaliteit was hy die eerste bruin speaker, munisipale woordvoerder, raadslid en voorsitter van die behuisingsportefeulje. Die nederige, beskeie man verbeter sy kwalifikasies met studies by IDAS, Prokureurs vir Menseregte, en VEETU. In die jaar 2000 verlaat A.K. die onderwys en spits hom voltyds toe tot die politiek. 'n Straat in die nuwe Panorama-woonbuurt word dan ook na hom vernoem, naamlik A.K. Daries straat.
Op Saterdag, 16 November 2013 is A.K. stil-stil oorlede, nadat kanker 'n jaar terug by hom gediagnoseer is - 'n siekte wat hy waardig gedra het. Aubrey Kenneth Daries was 'n 'Mensch in die Jiddisje sin van die woorde, iemand met ferme beginsels, integriteit en eerbaarheid'. Begrafnisreëlings: Saterdag, 23 November om 11:00 by die woning in Kerkstraat 74, en 12:00 by die St Andrews Anglikaanse kerk (Die Blou kerk).
Huldeblyk aan Leslie Edwin Daries:
Leslie Daries is gebore op 28 Oktober 1953. Hy word groot by sy oupa in Langstraat en voltooi sy laerskool opleiding by die St Andrews Mission School.
Hy verlaat standerd 9 die skool by Gerrit du Plessis sekondêr en begin werk by Murray en Roberts in Kaapstad. Leslie was 'n skrander leerling en voltooi sy matriek deur aandklasse te loop. Hy bekwaam hom deur verdere studies aan die Skiereiland Technikon as bou inspekteur. Hy tree in die huwelik met Lilly van Wyk en word daar twee seuns, Selby en Lylle, uit die huwelik gebore.
Leslie was bou inspekteur by Stellenbosch munisipaliteit, Hessequa munisipaliteit en tot onlangs Kannaland munisipaliteit in Ladismith. Leslie Daries bekwaam hom later ook as boutekenaar en het onlangs 'n kursus in finansiële bestuur voltooi. Leslie is skielik Maandag, 18 November 2013 oorlede as gevolg van nierversaking in die Cape Gate Medi-Clinic.
Begrafnisreëlings: Saterdag, 23 November 2013 om 08:00 by die woning Mossienes in Barrystraat en om 09:00 uit die St Andrews Anglikaanse kerk. (Die Blou kerk).

Leslie Edwin Daries is hier afgeneem saam met sy gesin. Langs hom staan sy vrou, Lilly, regs staan Selby en agter Lylle.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'