HESSEQUA NUUS - Die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika staan nou op 29,1%.
Dit beteken feitlik een uit elke drie mense is werkloos.
Dit gaan nog goed in Hessequa, die streek met die laagste werkloosheidsyfer. In 2012 was dit 7,7% en het stadigaan toegeneem tot 8,5% in 2017. Die syfer vergelyk gunstig met die gemiddeld in die Garden Route-distriksmunisipaliteit (17,0%) en die Wes-Kaap (18,2%).
"Werksgeleenthede word in Suid-Kaap Forum geadverteer," sê Johan Jacobs, munisipale bestuurder.
"Daar is tans 50 geleenthede vir messelaaropleiding op Heidelberg en Riversdal.
Wanneer finansiering van nasionaal of die provinsie beskikbaar gestel word, word sulke geleenthede ook in die Suid-Kaap Forum geadverteer."
Wat sê ons lesers
Op die koerant se Facebook-vraag: 'Indien jy werkloos is - wat maak jy om te oorleef?' het lesers so reageer:
Riaan Odendaal: "Wees oplettend vir geleenthede en of skep jou eie geleentheid. Maak 'n nuwe plan, probeer iets nuuts buite jou ervaringsveld."
Anna Venter: "Iets van alles. Help waar jy kan al is dit net vir 'n bord kos."
Lilian Nomdo: "Ek bid en vertrou dat die Here sal deurkom op die laaste minuut - ons het nog nie een aand honger gaan slaap nie want God se genade is getrou."
Richardo Gatto Marnewick: "'n Baie goeie vraag - ek sal sê baie begin verkoop eers waardevolle items, dan as daai geld op is, begin jy bedel. Dan begin jy stout wees- of moet ek dit 'steel' noem?
Dan beland jy in die tronk en daar het jy 'n goeie lewe én onmiddellik 'n kriminele rekord en dan is jou lewe eers hel!
Niemand wil ander help nie - daar is altyd net twee of drie in die gemeenskap wat uitreik na ander. En baie dankie vir die vraag, ek het al lankal vir so iets gewag."
Staatstoelaes
Werkloosheid kom voor wanneer 'n ekonomie nie in die vraag na arbeid kan voorsien nie.
Dit dra daartoe by dat al meer mense van staatstoelaes afhanklik is. In 2016 het 15,5 miljoen mense gewerk, terwyl 17 miljoen toelaes ontvang het.
Syfers
Statistiek Suid-Afrika het onlangs bekend gemaak dat werkloosheid in die derde kwartaal (van Julie tot September) tot 29,1% gestyg het.
- Altesaam 6,7 miljoen mense is werkloos, terwyl 38,6 miljoen wel werk het;
- Werkloosheid in dieselfde kwartaal het sedert 2019 met 4,6% toegeneem;
- Die aantal mense van werkende ouderdom (16 -64) het in die derde kwartaal met 149 000 toegeneem;
- Mense wat werk het, maar nie matriek nie se werkloosheid is 34,4%, terwyl diegene met matriek se werkloosheid 29,8% is;
- Werkloosheid onder gegradueerdes is 8,2% en die met ander tersiêre opleiding 19,1%;
- Sowat 3,3 miljoen jeugdiges tussen die ouderdom van 15 en 24 is werkloos en nie in die skool of besig met opleiding nie. Altesaam 58,4% van hulle is werkloos.
- Altesaam 62 000 nuwe werksgeleenthede is geskep, 78 000 het hul werk verloor, 44 000 het ophou werk soek, en 35 000 is op 'n ander manier onaktief in die arbeidsmark.
Bron: SAnews.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'