HESSEQUA NUUS - Terwyl talle gebiede van die land steeds onder die uitgerekte droogte gebuk gaan, is daar nie op die oomblik 'n ernstige waternood in Hessequa nie.
"Daar is huidig geen watervoorsienings-krisis nie," sê Harold Basson, direkteur: tegniese dienste.
Van die dorpe kry water van riviere en damme, naamlik Riversdal, Heidelberg, Slangrivier, Vermaaklikheid en Jongensfontein, terwyl ander se water aangevul word deur boorgate, soos Stilbaai, Melkhoutfontein en Albertinia, en 'n ontsoutingsaanleg by Witsand.
Die stand van damme op Maandag 13 Mei was in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar soos volg: Korentepoortdam 58,1%, (52,4%); Duivenhoksdam 67% (94%); Olive Grovedam 50% (55%); Jongensfontein dam 100% (100%). Dit kom daarop neer dat daar ten spyte van goeie reëns vroeër vanjaar, wat die weivelde in groen getooi het, die droogte van die afgelope drie jaar nog glad nie gebreek is nie. Die waterbeperkings in al die dorpe bly op vlak 2.
"Die reënvalpatroon vir Hessequa is baie onvoorspelbaar," sê Basson. "Statisties is die hoogste reënvalmaande April en Oktober, maar in die res van die jaar is daar min van 'n patroon. Riversdal is nie 'n winterreënvalgebied nie. Hoewel daar nie 'n onmiddellike krisis is nie, word 'n beroep op verbruikers gedoen om water spaarsamig te gebruik. Ons weet nie wat die situasie deur die winter gaan wees nie."
Volgens statistiek kry April gemiddeld 56 mm, September 44 mm en Oktober 47 mm, terwyl die droogste maande November (32 mm), Desember (33 mm) en Januarie (23 mm) is.
Suid-Kaap
Watergewys gaan dit ook goed in ander streke in die Suid-Kaap. By Mosselbaai staan die vlak van die Wolwedansdam op 70,38% by Swellendam is die Buffeljagsdam vol (93,09%), by George is die Tuinroetedam se vlak 87,21%, by Oudtshoorn is die gesamentlike vlak van die Mellville en Raubenheimerdamme 44,73%, terwyl die besproeiingsdamme Kammanassie- 2,33% en Stompdrift- 8,49% water het. Die Calitzdorpdam is op 19,94% en by Prins Albert is die Gamkapoortdam, wat verlede jaar die tyd dolleeg was, se vlak 25,79%. Die vlak van die Gamkadam by Beaufort-Wes het in Maart vanjaar vir die eerste keer in jare 9% water gehad.
Provinsies
Die Wes-Kaap se damvlakke is gemiddeld op 33,7% waar dit verlede jaar die tyd voor die winter op 16,85% was. In Gauteng is die damvlakke gemiddeld 96,8%, in die Vrystaat 88,4%, in die Noord-Kaap is dit 81.6% en in Mpumalanga 74,2%. In die Oos-Kaap is die vlakke gemiddeld 62,4% en in KwaZulu-Natal 65,2%. Die Magoebaskloof-, Hans Merensky- en Tonteldoosdamme in Limpopo is vol, terwyl die Tzaneendam se vlak weens werk aan die damwal laer is.
Hoewel sommige provinsies se gemiddelde damvlakke redelik goed lyk, is daar streke waar water aangery moet word.
Statistieke-bron: SANews.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'