STILBAAI NUUS - Danksy inisiatief van Stilbaai se toeristebeampte, Annerise Wolmarans het die toerismeburo Saterdag, 8 Augustus weer gewemel met besoekers. "Dit het behoorlik gelyk of die mense uitgehonger was vir bietjie rondloop, al was dit agter maskers," lag sy.
Sy het 10 plaaslike kunstenaars genooi om hul werke in die buro se tuin uit te stal. Die uitstalling was van 10:00 tot 14:00 oop en toegang was gratis. Binne is 'n argeologiepraatjie deur die loop van die oggend aangebied.
Wolmarans sê 180 mense het die uitstalling besoek. Die praatjie is ook goed ondersteun en moes vier keer aangebied word om almal te akkommodeer, want slegs 10 mense is op 'n slag in die lokaal toegelaat.
Die buro het ook met die "Proe 'n stukkie Stilbaai"-bokse fluks sake gedoen. Die inhoud van die bokse sluit lekkernye soos biltong, gebak, olywe, brood en kaas deur inwoners gemaak, in.
Dries de Beer, voorsitter van die toerismeburo sê hulle het heelwat navrae met betrekking tot dié bokse van mense wat nie plaaslik woon nie, gekry. Hulle sal binnekort 'n alternatief beskikbaar hê wat nie bederfbare produkte insluit nie en dus gekoerier kan word.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'