RIVERSDAL NUUS - Die sluiting van Karlientjie-bloemiste in Kerkstraat beteken die einde van 'n era.
Die bloemiste, wat ook geskenke verkoop het, het ruikers vir Moedersdag, troues, begrafnisse en Valentynsdag verskaf.
Die besigheid is in die vroeë sewentigs deur Johanna Burger, bekend as tannie Baba, langs die destydse Rauma Elektrisiëns in Kerkstraat begin.
Daardie jare is Rauma deur Gideon Lotz bedryf waar Riversdal Grassnyers en Kettingsae vandag is.
Een van tannie Baba se blomverskaffers was Martin du Preez, wat dahlias teen 25 sent stuk aan haar verkoop het. Sy het die bloemiste later aan Anna de Vos (néé Burger), 'n boorling van Williston, verkoop. Anna, wat ook die Springbok Kafee en 'n tweedehandse klerewinkel bedryf het, het later ook M.S. Crous se damesboetiek gekoop. Na haar besoek aan 'n familielid in Kemptonpark, het Karlientjie deel van Interflora geword. Die besigheid het ook babaklere soos dooprokkies, glasware en ander geskenke verkoop.
Anna het die besigheid in 1984 aan Lucia Marais, wat die Roadhouse en die Central Hotel bedryf het, verkoop. Sy het Karlientjie op haar beurt aan Magdaleen Vermaak verkoop. Die Vermaak-familie is bekend vir die pragtige proteas en heide wat hulle aan die buitelandse mark lewer.
Na die afsterwe van Joa Gomes in Augustus 1988, verskuif Karlientjie na die perseel van Joa se vrugte- en groentewinkel Plaasvars in Kerkstraat 63a.
Joan Kleynhans, bekend as Joan Karon, het in 1985 by die besigheid as assistent aangesluit en sy het die pragtigste ruikers en kranse gemaak gedurende die 36 jaar wat sy die gemeenskap gedien het. In 1995 het 'n regopruiker R35, en 'n blommekrans vir 'n kis R40 gekos.
Mariëtte Oosthuizen het die besigheid in 1996 gekoop en dit is deur haar suster Hester Calitz bedryf. Karlientjie het 'n ruk lank ook kerse wat nie uitbrand nie vir spesiale geleenthede uitverhuur.
Maar, helaas, met supermarkte wat begin blomme verkoop het, bestedingspatrone wat verander het en sosiale media wat die plek van 'n groeteruiker ingeneem het, het blomme half uit die mode geraak. Maar dit maak nie die sluiting van Karlientjie minder van 'n verlies vir die gemeenskap nie.
Karlientjie-bloemiste in Kerkstraat het na sowat vier dekades sy deure gesluit. Foto’s: Keith Eksteen
Karlientjie-bloemiste het in Januarie vanjaar toegemaak.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'